Deur: Ds. Marius Breytenbach
Jy kan vandag hierdie vraag vra omdat jy belangstel om te weet waar die kerk, waarvan jy deel is, vandaan kom, of omdat jy moontlik ontnugter is deur dinge wat binne die kerk gebeur. In ieder geval behoort ons volgende Bybelskoolkursus oor die ontstaan en ontwikkeling van die vroeë kerk dan vir jou interessant te wees.
Die kerk se storie begin met Pinkster, soos ons verlede week gevier het. Vyftig dae na Jesus se opstanding is die Heilige Gees in Jerusalem uitgestort en ‘n nuwe bedeling vir Jesus se navolgers is ingelei. Handelinge vertel die verhaal van God se teenwoordigheid daar waar Christus se Gees ’n verskeidenheid van mense bymekaar gebring het om aan die vroeë kerk gestalte te gee. Briewe wat deur Paulus, Petrus, Johannes, Judas en Jakobus geskryf is, neem die verhaal verder en vertel van die geleenthede en uitdagings wat tussen 33 v.C. en 110 n.C. die kerk se pad gekruis het. In die kursus gaan ons kortliks aandag gee aan hoe die Heilige Gees gelowiges gelei het, en ook stilstaan by ’n periode waarvan ons min weet, naamlik die voor-Nicéaanse tydperk. Dit behels die kerk se verhaal van ongeveer 100 n.C. tot en met die opstelling van die geloofsbelydenis van Nicéa in die jaar 325. Dit vertel die storie van die apostels (Jesus se dissipels) se dissipels – wat ons die “ou kerkvaders” noem – oor wie ‘n magdom geskrifte bestaan wat nie in die Nuwe Testament opgeneem is nie. Dit sluit mense in soos Polikarpus van Smirna en Ignatius van Antiogië (Johannes se dissipels) en Klemens van Rome (Petrus en Paulus se dissipel).
Wat kan ons vandag leer uit die vroeë kerk se storie?
Die Bybelskoolkursus sal vroeg in die derde kwartaal in die kerk deur ds. Marius Breytenbach aangebied word en opnames van die sessies sal weekliks op ons webblad en YouTube-kanaal beskikbaar wees. Verdere besonderhede sal vroeg in die derde kwartaal bekend gemaak word.