Oorloë en gerugte van oorloë

Ontmoet vir Phil Niehaus – nuwe kerkraadslid
Ontmoet vir Lynette Burger, nuwe kerkraadslid

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Woorde van die wêreld om ons:

Hierdie week herdenk ons twee grusame gebeure: herinner ons mekaar aan twee bomme wat groot verwoesting gesaai het;
besin ons oor ʼn Christelike Weste wat ewe wetenskaplik die gesig van die mensdom nog verder geskend het.

Tagtig jaar gelede, op 6 Augustus 1945, het die VSA die eerste atoombom, met die naam “Little Boy”, op die Japannese stad, Hirosjima, laat val. Dié kernontploffing het die stad verwoes en tussen 70,000 en 140,000 mense het teen die einde van daardie jaar gesterf. Dié mense was nie soldate nie, hulle was maar net gewone mense en duisende van hulle was kindertjies. Die bestraling van die ontploffing het nog duisende lewens in die jare daarna geëis.

Op 9 Augustus, net drie dae later (ironies vir Christene wat onthou dat Jesus op die derde dag uit die graf opgewek is tot die lewe) is ’n tweede, selfs kragtiger bom (“Fat Man”) op Nagasaki laat val. Hier het sowat 74,000 mense teen die einde van 1945 gesterf.

Woorde van die kerk tot ons

Psalm 33:8-9 (Die Totius beryming in ons Liedboek)

Die Heer skou uit die hoë hemel
en sien die mensekinders aan;
Hy ken hul hart, oor hul gewemel
laat Hy sy heil’ge oë gaan.
Magtige oorlogsvolke, boë, skilde, dolke,
blinkende oorlog-staal –
duisende uitgetelde manne, stryders, helde
bring geen seëpraal.

Die oorlogsperd kan nie behou nie,
hoe hy ook aanstorm met geweld;
hy red nie met sy ysterklou nie
wat grimmig neerdreun op die veld.
Maar die Heer se oë straal met mededoë
op wie, klein van krag,
voor Hom stilverslae in hul donker dae
op sy grootheid wag.

ʼn Woord van God tot ons

Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het, want Ek het van God af uitgegaan en nou is Ek hier. Ek het ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur. 43 Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my woorde nie werklik kan hoor nie. 44 Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar en die vader daarvan is. 45 Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie.
Johannes 8:43-45 (2020-vertaling)

9 Ek sê vir julle:
“Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle
sal oopgemaak word.
10 Want elkeen wat vra, ontvang;
en wie soek, vind;
en vir wie klop, sal oopgemaak word.
Lukas 11:9-10 (2020-vertaling)

Nagedink oor hiérdie God se woorde

Hierdie atoombomme het Japan se oorgawe bespoedig en het die Tweede Wêreldoorlog beëindig, maar teen watter prys? Die wêreld het eensklaps ʼn nóg gevaarliker plek geword; die toekoms nóg onsekerder. Politici wat dink hulle is gode het immers nou die vermoë om lewe, die wonderbare geskenk uit God se hand, op die aarde totaal uit te wis! En hierdie gedagte is nie maar net ʼn pessimistiese nagmerrie wat tog nooit ʼn kans het om ʼn werklikheid te word nie. Verwaande politici loop soms op die randjie van ʼn afgrond om vertonerig te wees, totdat hulle afval. Met kernwapens val ons dalk almal saam af. Is Amerika se kernduikbote nie hoeka (met goeie rede?) op hierdie oomblik in die Russiese gebiedswater nie? Is Amerika se leier en Rusland sʼn bekend as onkreukbare liefhebbers van die waarheid? Albei bely dat hulle Christene is – jok hulle nie dalk daaroor ook nie?

Kan moderne mense nog aan die bestaan van die Duiwel glo? As jy koerante lees, en na die nuusuitsendings op TV kyk, wéét jy dat die Duiwel bestaan! Die wreedheid en leuenagtigheid wat in ons wêreld die botoon voer, is meer as wat net uit blote (bose) menseharte kan uitborrel. Jy hoef nie te glo dat die Duiwel bestaan nie, jy kan dit wéét, jy kan hom immers oral sien. Hy staan lewensgroot op die slagvelde van die Oekraïne, hy sit en giggel op die puinhope in Gaza, hy dans by die begrafnisse van die kindertjies in die Soedan – en Jesus het gesê dat gewone mense sy kinders kan en wil word. En die Here het nie gesinspeel op Sataniste nie, Hy het die vrome godsdiensleiers van Israel in gedagte gehad. As dit met hulle kon gebeur . . .

Ons wat kinders van die Here is, is egter te midde van dit alles, nie sonder hoop en vrede nie. Jesus het die Satan oorwin, en ons het toegang tot die troon van Jesus deur die gebed. God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gegee het. Het jy ook die wêreld lief? Het jy die wêreld so lief dat jy ernstig vir die wêreld bid? Hieronder is ʼn voorstel vir hoe om dit te doen. Verbeter daarop of gebruik dit net so, maar maak dit deel van jou daaglikse gebedsroetine.

Ons Woorde tot die Here

Here, onse Here – help!
Ons sien stukkende huise,
opgeblaasde drome, verminkte mense,
uitgeteerde kindertjies
op die TV-skerm in ons veilige sitkamer.

Japan vryf hierdie week oor die letsels
van die wond wat tagtig gelede deur twee
groot bomme in hulle hart gelaat is.
Terwyl ons vir hulle bid,
probeer ons om die prentjie van volgende
katastrofes uit ons gedagtes te ban.

Die prentjie wil egter nie padgee nie, want
ons wéét, bomme raak al beter, groter, slimmer, vernietigender
en die wêreld raak al hoe leuenagtiger, wreder – Boser!
en ons word banger, moedeloser, magteloser.

Ons is die wat, soos Totius,
ons leer sing het:
“klein van krag,
voor Hom stilverslae in hul donker dae
op sy grootheid wag.”

Ons wag op U Here!
Vir die wêreld is dit donker dae.
Maar, ons weet dat U hoor as ons bid.
U het gesê dat as ons klop word daar vir ons oopgemaak!
U het belowe dat as ons soek, sal ons vind!
U het ons verseker dat as ons vra, sal ons kry!

Here, ons kom soek, ons kom vra, ons kom klop
ter wille van die wêreld – u wêreld, óns wêreld.
Óns kan nie veel doen nie,
Maar U kan – daarom dan,

Here, onse Here – help!

Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Kom, Here Jesus, ja, kom gou!

Amen.