Rentmeesterskap is een van daardie kerkwoorde wat redelik swaar op die oor val en waarvan die betekenis nie altyd so bekend is nie. In ’n onlangse artikel in VrydagNuus, amptelike nuusblad van Kaapkerk, meld die skrywer dat dit amper soos iets klink wat jy in ’n dik teologiehandboek sou kry, langs woorde soos “ekklesiologie” en “eskatologie.” Maar die kern van die saak is egter dat rentmeesterskap bloot doodgewone meelewing is. ’n Mens kan nie anders as om dit as ’n heilige ruiltransaksie te beskryf nie – met ander woorde om dit wat jy by God ontvang, aan ander te gee en dit te laat groei. Dit is daarom dan ook gepas om tydens die Seisoen van Skepping oor die begrip na te dink.
Rentmeesterskap verwys na die lekker warm mus wat deur diensbare hande gebrei is en wat op ’n koue Karoo-oggend aan ’n kind of bejaarde oorhandig word, die omgee vir die natuur en Moeder Aarde, die gewillige hande wat sop vir sopkombuise kook en by die kerkkantoor aflewer, die bydraes wat vir die kosprojek geskenk word en elke gelowige se bydrae tot God se werk hier op aarde. Dit is ’n groot woord – gevul met alledaagse lewende getuienisse uit dankbaarheid vir dit wat ons daagliks uit God se hand ontvang.