Little Seeds-projek bied boublokke in opvoeding

Dr. Serahni Symington werp lig op ouerskapkwessies
Nagmaal vir ’n duif

Foto bo: Die ses personeellede van die Little Seeds-projek is van links Tammy-Lee Booysen, Melanie Thirion, Isabella de Kock,Nicola Vermeulen, Erika Hougaard en Zylia Volschenk

Barry Matthews, voorsitter van die Little Seeds-projek – wat fokus op vroeë-kinderontwikkeling meld in die organisasie se jongste jaarverslag dat 57% van kinders wat vroeë kinderontwikkelingsprogramme nie bywoon nie, teen vyfjarige ouderdom nog nie op koers met die verwagte mylpaalontwikkeling is nie. Daarom is dit noodsaaklik, soos deur navorsing bewys, dat investering in vroeëkinderontwikkeling ’n uiters noodsaaklik komponent in die opvoeding van kinders is.  Met die Little Seeds-projek word aandag geskenk aan die fondament van kinders se opvoeding en seker gemaak dat die opvoeding op gesonde boublokke gebaseer word.

Die projek  bied ’n verskeidenheid dienste in die Wes-Kaap waar die projek sy oorsprong gehad het, aan. Dienste is ook na die Noord- en Oos-Kaap uitgebrei.  Volgens die programbestuurder, Erika Hougaard, fokus hulle veral op dienslewering in die platteland en sy noem dat die program jaarliks meer as 5 600 kinders  bereik.  Die Little Seeds-projek bied ondersteuning en opleiding aan 14 dagsorgsentrums, 35 dagmoeders en drie nasorgsentrums.  Die projek organiseer ook leesgroepe waarby 225 storievertellers betrokke is en meer as 2 000 kinders word jaarliks deur die aanbiedings bereik.

Volgens Erika word daar deur die loop van ’n jaar ongeveer 110 opleidingsessies aan volwassenes  wat by vroeë kinderontwikkeling betrokke is, hetsy in dagsorg- of nasorgsentrums, gebied.

Een ding is seker – die Little Seeds-projek maak ’n verskil waar hulle betrokke is.  Die projek se visie sluit mooi aan by die gemeente se waarde, om ’n verskil in die wêreld te maak en oor grense heen uit te reik.   Stellenberg-gemeente verwelkom die entoesiastiese en toegewyde span met ope arms en is opgewonde om hul in hulle dienslewering te ondersteun.