
Alet Erasmus, eienaar van Creative Cuisine Pantry, het min bekendstelling in Stellenberg-gemeente nodig. Die energieke donkerkopvrou — of haar produkte met die kenmerkende donkergroen etikette — is aan die meeste Stellenbergers goed bekend.
Alet vertel dat haar eerste aansoek om by die feesmark uit te stal in 1999 afgekeur is.
“Ek het destyds met my vinaigrette-slaaisous aansoek gedoen. Ek het baie spyseniering gedoen, en die vinaigrette was só gewild dat ek dit in herwinde wynbottels gemeng en aan vriende en familie verkoop het,” vertel sy.
“Toe ek afgekeur word, het ek ’n bietjie selfondersoek gedoen en besef ek moet my reeks uitbrei, sodat ek nie net een produk aanbied nie. In 2000 het ek weer aansoek gedoen, dié keer met ’n heuning-en-korrelmosterd-slaaisous, rissiesous en ingelegde olywe – en siedaar, toe word ek gekeur!”
Sy glimlag wanneer sy vertel hoe Hester van der Merwe, wat destyds die feesmark gereël het, haar op die eerste markdag teen ongeveer vyfuur die middag gebel het met die woorde: “Alet, al jou produkte is uitverkoop!”
“Toe werk ons daardie nag deur,” onthou sy. “Die hele buurt se huishulpe het saans kom help om te botteleer en etikette te plak. Só het ons vir die eerste vyf jaar van Creative Cuisine Pantry se bestaan tydens marktyd gewerk.”
Alet was toe nog lektor by Boland College, maar in 2008 het sy die lesingkamer verruil vir ’n fabriek in Kraaifontein en voltyds aan haar onderneming begin werk.
Vandag, 25 jaar later, het Creative Cuisine Pantry twee fabrieke met 55 werkers wat in dag- en nagskofte werk, en sewe bestuurspersoneellede wat saam met Alet die onderneming bestuur. Hulle vervaardig tans 18 verskillende produklyne vir die bekende Forest and Feast-reeks van die Checkers-groep, asook 12 produkte wat onder hulle eie naam landwyd in Checkers-winkels beskikbaar is. Boonop word Creative Cuisine Pantry se produkte ook in Spar-winkels landwyd verkoop, en selfs uitgevoer na Zambië en Mauritius.
Een produk in die Forest and Feast-reeks het só ’n unieke verpakking dat elke etiket met die hand geplak moet word.
“Voor einde November moet ons 120 000 etikette met die hand plak,” vertel Alet.
Sy neem deesdae aan drie Kersmarkte deel — en die Stellenberg feesmark bly natuurlik een van haar gunstelinge.
“Al is my produkte in winkels beskikbaar, is daar steeds kliënte wat verkies om dit by die feesmark te koop. Dis ook vir my heerlik om geleenthede vir ander te skep wat my help met die bemarking en bemanning van die stalletjies.”
“My besigheid het 25 jaar gelede in die grootsaal van Stellenberg-gemeente begin,” sê sy met trots.
Wat ’n ongelooflike reis – en ’n getuienis van wat harde werk, deursettingsvermoë en geloof kan verrig. Baie geluk, Alet! Mag ons vir nóg 25 jaar saam met jou feesmarkte hou.