Ons neem afskeid van ds. Nicol Louw wat vanaf 1980 tot 1981 ’n leraar van Stellenberg-gemeente was, waarna hy by Kenridge-gemeente werksaam was. Ons deel graag die pragtige huldeblyk wat sy jongste seun, Jakkie Louw, vir hom geskryf het:
85 somers tot skemer donker word
Daar is dit nou in die skemer van Pappa se jare, Pappa is vyf-en-tagtig somers daar vir ons as gesin.
Ons is die Louws van Kenridge gemeente.
Pa staan soos ’n sterk eikeboom in die veld van ons tyd. Ons era. “What a time to be alive.”
Dominee Louw, met oë vol lag, genade en goedheid. Pa het God se Woord soos brood uitgedeel aan die wat honger was vir liefde en wysheid. 961185 was ons huistelefoonnommer vir die mense wat die tyd van die kerk vergeet.
Pappa het getrou met Mamma op ‘n jong ouderdom en haar opgepas vir sestig jaar.
Sewe kinders het Pappa help grootmaak met hande vol liefde.
Een seuntjie het vroeg na die Hemel vertrek en dit was ’n seer wat Pappa en Mamma moes dra in stilte. Troos en trane afvee, is wat ek meestal onthou.
Pappa was ‘n held vir die armes, die rykes, ‘n vriend vir enige alleenmense en die gemeente se kinders het altyd na Pappa gekom vir raad. Pappa was ‘n mentor vir ons gesin en alle naastes. Pappa kon met woorde en gebede ‘n boodskap vleg deur die storms van die lewe.
Slim soos Salomo, goedhartig soos Josef se mantel, het Pappa lig gebring waar daar duisternis was.
As die hemelpoorte oopgaan vir Pappa se tuiskoms, sal die mense nog lank oor Pappa se voetspore praat –ewige voetspore.
Hulle sal praat oor hoe Pa geloop het met die Bybel as kompas , in suiwer geloof, in liefde, in waarheid en die wêreld ’n bietjie warmer gelos het as wat dit was na 85 somers.
Want soos gesê is in Prediker 7:1
“’n Goeie naam is beter as kosbare salf,”
en Pa se naam sal bly hang soos ‘n heerlike reuk van die oggenddou in die lug, tot die laaste dag wanneer ons almal huis toe gaan en mekaar weer sien.
Ek . . . die jongste van ons sewe Louwtjies . . . ek sal aanhou optree op vreemde verhoë . Voor vreemde mense my boodskap sing. Ek sal aanhou sing tot my 85 somers skemer donker word.
Ek sal dan vir God dankie sê weer en weer, want ek’s my pa se seun!
Kyk . . . daar word die skemer nou donker . . .
Totsiens Pappa x