Deur: René Herselman
Elke maand het Stellenberg-gemeente die voorreg om uit te reik na die vroue van Klipheuwel deur ondersteuning, bemoediging en hoop te bied te midde van moeilike omstandighede.
Dié vroue staan daagliks voor baie uitdagings – armoede, eensaamheid, gesinsprobleme, werkloosheid en ander uitdagings kan die lewe dikwels oorweldigend laat voel. Ons begeerte is nie bloot om praktiese hulp te verleen nie, maar om elke vrou daaraan te herinner dat sy raakgesien word, waardevol en geliefd is, en dat sy nooit alleen is nie.
Ons bied ondersteuning deur kos en klere te voorsien, waar daar ‘n behoefte is, maar ons verstaan ook dat ware omgee veel dieper lê. Ons spandeer tyd om na die vroue te luister, bied emosionele ondersteuning en bemoediging, en skep ‘n veilige ruimte waar hulle hul stories kan deel.
Gebed is die hart van ons bediening. Ons bid saam met die vroue en vir hulle gesinne, en bring hulle behoeftes voor God en vertrou Hom om in hulle lewens te werk. Ons poog ook om hulle deur die boodskap van die Evangelie te bemoedig en te versterk deur die hoop, liefde en genade wat ons in Jesus Christus gevind het, met hulle te deel.
As Stellenbergers is ons dankbaar vir die geleentheid om deel te wees van dit wat God onder die vroue van Klipheuwel doen. Ons bid dat elke vrou deur hierdie bediening nie net praktiese versorging en ondersteuning sal ervaar nie, maar ook die transformerende liefde van God en die hoop wat in Jesus gevind word.
Ons volgende besoek aan die vroue van Klipheuwel is Dinsdag 18 Augustus. Ons vertrek om 17:15 vanaf Stellenberg se terrein met die kerk se bussie. Kom saam en beleef die wonderlike samesyn met hierdie vroue. Navrae: Ds. René Herselman 079 893 8104.