48 Comerades wedlope – ontmoet vir Wietze

Barmhartigheid kry hande en voete in Klipheuwel

Wietze van der Westhuizen het vir die drawwers in die gemeente waarskynlik min bekendstelling nodig. Wietze wat elke Saterdag die bekende en gewilde Wietze Runs aanbied, is ’n lidmaat van Stellenberg en woon net om die draai van die kerk in Eversdal.

Wietze vertel dat hy na 18 jaar in die onderwys in sekuriteit betrokke geraak het en toe met die oog op ’n werksgeleentheid Kaap toe verhuis het.  Met hulle aankoms in die Kaap het hy op ’n dag vir sy vrou gesê hy mis sy ou hardloop- en Bybelstudiegroep baie.  Sy vrou, Wilna, stel toe voor dat hulle daaroor bid.

“Binne die volgende twee weke draf ek een oggend in Parow-Noord, waar ons toe gewoon het, en daar kom ’n ander drawwer van voor af.  Ek keer hom voor, stel myelf voor en vra of hy nie weet van ’n drafgroep waarby ek kan inskakel nie.  Die drawwer nooi my toe om by sy eie drafgroep aan te sluit en glo dit of nie, die drawwer is toe boonop Parow Noord-gemeente se leraar – daar is my soektog na ’n Bybelstudiegroep toe ook sommer opgelos,” vertel Wietze.

“Ek het vier jaar saam met die groep geoefen, maar toe die groep begin uitdun het ek gedink ek moet met ’n nuwe plan vorendag kom.  Toe begin ek 24 jaar gelede die Wietze Runs.  Op daardie stadium het ek dit in Boston begin, waar ek toe gewoon het.  Toe raak die groep hardlopers te groot en mense begin kla oor parkering, ens. en toe skuif ons na Welgemoed forum.  Toe raak die groep te groot om weer daar ook gerieflik te funksioneer toe skuif ons Velodrome toe en later Willowbridge toe waar ons nou al ag jaar bymekaar kom.  Die Wietze Run bied ’n 6, 12, 21 en 30 km roete aan.  Die   organisering van die wedlope met waterpunte wat elke 3km aangebied word, is ’n groot werk en ek kan dit nie sonder die hulp van vrywilligers en my getroue vrou aanbied nie.  Wima staan die afgelope 24 jaar elke Saterdagoggend 04:00 op om my te help met al die voorbereidings.”

Wietze het al 48 comerades wedlope voltooi, sy twee dogters het al onderskeidelik 4 en 11 wedlope op hulle kerfstok en gesamentlik spog die hele van der Westhuizen familie, wat Wietze se twee broers insluit, met ’n allemintige 98 comerades wedlope wat deur die familie voltooi is.

Vir dié ywerige hardloper is die grootste lekkerte om iemand anders te help om sy/haar hardloopdoelwitte te bereik.  Hy blom behoorlik wanneer hy vertel hoe hy al mense wat net 8 km op ’n slag kon hardloop, gehelp het  om uiteindelik ’n Comerades-marathon te voltooi.   Dit is sigbaar dat hierdie mentorskap en aanmoediging van ander sy eintlike passie is.

Daarom het hy ook aangebied om iets in die gemeente aan te bied wat lidmate geleentheid bied om aktief te raak.  So is die gemeente se DankieDraf gebore.

“Ek glo dat ons ons liggame moet op pas en versorg en een van die beste manière om dit te doen is deur aktief te wees en gereeld te oefen.  Ek nooi almal wat kans sien om Woensdag 2 September om 06:00 by ons aan te sluit. Die DankieDraf, wat ook gestap kan word is net ’n 5 km-roete. Ons verterk en eindig op die kerkkterrein.   Moenie ontmoedig voel indien jy dalk lanklaas geoefen het nie, jy stap of draf teen jou eie tempo en terwyl ons stap of draf, sê ons dankie vir die gawe van lewe, samesyn en God se groot genade wat ons daagliks omvou.