Dagstuk | Maandag 15 Julie 2024

Dagstuk | Saterdag 13 Julie 2024
Dagstuk | Dinsdag 16 Julie 2024

Maandag 15 Julie

Gedurende die afgelope skoolvakansie het ons uitreikspanne saam met die gemeenskappe van Leeu-Gamka en Calitzdorp gereis deur die storie van Saggeus in Lukas 19. Dit is ’n verhaal waarin Saggeus se ontmoeting met Jesus hom onherroeplik verander. As jy luister na die stories van ons uitreikspanne, is dít wat jy hoor: Hoe hulle vir  Jesus in die Karoo en tussen ander mense ontmoet het en hoe hierdie ontmoeting hulle en ander se lewens aangeraak het. Hierdie week reis ons ook dan deur die storie van Saggeus. Ons begin vandag by die eerste paar verse:

Lukas 19:1-3

 

1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan.

 

Refleksie

Die verhaal van Saggeus begin met sy hoop om Jesus te sien. Saggeus wou vir Jesus sien. Op die uitreike het ons elke dag afgsluit deur op ’n groot stuk papier te skryf: Waar het jy vandag vir God beleef? Die vraag kan anders gestel word as: Waar het jy vandag vir Jesus gesien? Die vraag nooi ons uit om bewus te word van God se teenwoordigheid en in ons verlede te sien waar ons vir Jesus ontmoet het. Deur die vraag elke aand te vra, berei dit ons ook voor vir môre en nooi dit ons uit om met ’n groter bewustheid te leef. Elke oggend staan jy op met ’n hoop om Jesus vandag te sien.

Ons hoop elke dag vir ’n klomp dinge. Partykeer probeer ons selfs net deur die dag kom en die dag oorleef. Wat sou gebeur as jy elke dag hoop vir niks anders as om vir Jesus te sien nie?

Reflekteer vandag oor hierdie vrae:

  • Op watter maniere soek ek aktief na Jesus in my daaglikse lewe?
  • Hoe kan ek ‘n dieper verlange kweek om Jesus te ontmoet?
  • Waar hoop jy om vir Jesus vandag te sien?

Hierdie week daag ek ons uit om aan die einde van elke dag neer te skryf waar jy vir Jesus gesien het, of waar jy vir God beleef het. Gaan leef met ’n groter bewustheid dat Jesus teenwoordig is en met ’n hoop om vir Jesus raak te sien.

Gebed

Here Jesus, help my om U met my hele hart te soek. Soms soek mense soveel ander dinge. Here, ek soek na U. Maak my oë oop en gee vir my ’n diep bewustheid van u teenwoordigheid in my lewe, sodat ek U al hoe meer kan sien en sodat ander U al hoe meer in my kan sien.

Amen