Dagstuk | Saterdag 20 Julie 2024

Dagstuk | Vrydag 19 Julie 2024
Dagstuk | Maandag 22 Julie 2024

 

Hierdie week reis ons deur die storie van Saggeus. Vandag reflekteer ons vêrder oor die laaste gedeelte van die verhaal van Saggeus.

Lukas 19:9-10

9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Refleksie

Terwyl die skare geskok is dat iemand soos Jesus by ’n mens soos Saggeus se huis tuis gaan en vir Saggeus brandmerk as ’n sondaar, noem Jesus hom ’n kind van Abraham en sê dat daar vandag vir hom en sy huis redding gekom het. Jesus het juis gekom vir mense soos Saggeus. En vir mense soos ek en jy. En mense wat ons as sondaars sou beskou. Ek dink Jesus red nie net vir Saggeus nie, maar eintlik die hele skare, omdat hy hulle uitnooi om anders te kyk na die mense rondom hulle – veral die mense wat hulle so maklik as sondaars brandmerk.

Reflekteer vandag oor die volgende vrae:

  • Wie beskou mense maklik as sondaars in vandag se samelewing  – diegene wat volgens ons nie verdien om saam met Jesus gesien te word nie?
  • Wat dink jy sê Jesus vandag oor hierdie mense?
  • Jesus sê oor Saggeus dat hy ’n kind van Abraham is. Wat sê Jesus vandag oor jou?
  • Hoe word jy vandag genooi om anders te kyk na die mense rondom jou?

Ons sluit vandag weer af met die gebed van Franciscus van Assisi

Gebed

Here, maak my ‘n instrument van u vrede.

Waar daar haat is, laat ek liefde saai;

waar daar verwonding is, vergifnis;

waar daar twyfel is, geloof;

waar daar wanhoop is, hoop;

waar daar duisternis is, lig;

en waar daar hartseer is, vreugde.

 

O Heer, gee dat ek nie soseer mag soek

om getroos te word as te troos nie;

om verstaan te word as om te verstaan nie;

om liefgehê te word as om lief te hê nie.

Want dit deur te die gee wat ons ontvang;

dit is in begenadiging dat ons begenadig word;

en dit is deur te sterf dat ons gebore word tot die ewige lewe.

 

Amen