Dagstuk | Donderdag 25 Julie 2024

Dagstuk | Woensdag 24 Julie 2024
Dagstuk | Vrydag 26 Julie 2024

Vandag is Donderdag 25 Julie en welkom by hierdie week se oordenkings. Komende Vrydag begin die Olimpiese Spele waar ons uitsien om die beste van bestes op die wêreldverhoog te sien. Dit wat ons in die volgende maand op ons skerms gaan beleef, kom nie sonder harde werk nie. Dit verg spanwerk, volharding en uithouvermoë. Daar is hoogte en laagtepunte, beserings en druk van toeskouers en opponente. Gelukkig vir ons het ons ’n afrigter, fisioterapeut en spanbestuurder in ons Hemelse Vader en Hy is altyd aan ons kant en vir ons. Hierdie week kyk ons deur die bril van die Olimpiese Spele na ons eie wedstryd van die lewe.

Vandag se Bybelvers: “As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het. Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.” – 1 Timoteus 4:6-8

Paulus moedig Timoteus aan om ‘n goeie dienaar van Christus te wees deur die geloofswaarhede en goeie leer na te volg. Hy waarsku teen die aanvaarding van onheilige en nuttelose fabels, wat nie die godsvrug bevorder nie. Hy beklemtoon dat godsvrug belangriker is as liggaamlike oefening, omdat dit geestelike groei en die belofte van ewige lewe inhou. Hierdie verse bied praktiese raad aan vir ons as gelowiges oor hoe om ons geloof te leef en te groei in ‘n manier wat behaaglik of aanneemlik vir God is. Mag ons binne hierdie wedstryd van die lewe toegewyd leef aan die Here en Hom bo alles eerste plaas.

Gebed: Almagtige Here, ons dank U vir die geskenk van mededinging en die geleenthede wat die Olimpiese Spele bring. Ons vra vir u seën oor al die atlete wat meeding, dat hulle vreugde mag vind in hulle prestasies, en dat hulle dit alles kan doen met respek vir hulle mede-atlete tot eer van u naam. Mag u wil geskied met en deur hierdie atlete, netso ook met ons wat die lewensreis elke dag aanpak. Amen.