Dagstuk | Saterdag 27 Julie 2024

Dagstuk | Vrydag 26 Julie 2024

https://youtu.be/zcG2QYu3EMg

 

Vandag is Saterdag 27 Julie en ek verwelkom jou by hierdie week se oordenkings. Gister het die Olimpiese Spele begin en ons sien uit om die beste van bestes op die wêreldverhoog te sien. Dit wat ons die volgende maand gaan beleef op ons skerms kom nie sonder harde werk nie. Dit verg spanwerk, volharding en uithouvermoë. Daar is hoogte en laagtepunte, beserings en druk van toeskouers en opponente. Gelukkig het ons ’n afrigter, fisioterapeut en spanbestuurder in ons Hemelse Vader en Hy is altyd aan ons kant. Hierdie week kyk ons deur die bril van die Olimpiese Spele na ons eie wedstryd van die lewe.

Vandag se Bybelvers: Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof..” – Hebreërs 12:1

Hierdie vers kom uit ‘n gedeelte waar die skrywer van Hebreërs praat oor baie geloofsgetuies uit die Ou Testament en hoe hulle deur geloof geleef het. Die vers moedig ons as gelowiges aan om te volhard in ons geloof en om alle dinge wat ons terughou, soos sonde, af te lê. Dit gebruik die beeld van ‘n atleet wat ‘n wedloop hardloop, en moedig ons aan om met volharding te hardloop en nie op te gee nie, ten einde die prys van die geloof te ontvang. Hoe lyk jou wedstryd van die lewe tot dusver en watter aanpassings sal jy wil maak? Hou koers en beweeg voorwaarts met jou oë gevestig om Hom wat nuwe lewe gee!

Gebed: Here God, ons bid vir die atlete wat deelneem aan die Olimpiese Spele, dat hulle u pad mag volg met volharding en geloof. Mag hulle ware waardigheid toon deur hulle optrede en prestasies. Gee hulle vrede en vreugde in u diens, en mag die wêreld deur hulle getuienis van u genade en liefde geseën word. Amen.