Dagstuk | Maandag 12 Augustus 2024

Dagstuk | Saterdag 10 Augustus 2024
Dagstuk | Dinsdag 13 Augustus 2024

 

Goeiedag, vandag is Maandag 12 Augustus en die ons is tans in barmhartigheidsmaand en deur die loop van die maand gaan ons daarop fokus om ’n paar dinge aan ander mense te gee as ’n wyse van omgee. Gedurende die week gaan ons saam reis deur te fokus op die tema van hoe ek en jy geld kan gee as ’n manier van omgee.

Om geld te gee is meer as om net vir iemand wat langs die straat staan, ’n R10 noot te gee. Om jou geld as ’n manier van omgee te gee, begin by God. Dit begin by ’n emosie van jammer kry, maar ons gee omdat ons regtig die persone in nood wil help.

Ons leer die storie in die Bybel van die weduwee wat alles wat sy gehad het vir God gegee het. Sy het op ’n dag tempel toe gegaan en al haar geld in die tempel se kollektemandjie gegooi.  Dit was net twee muntstukke. Baie van die mense wat geld in die mandjie gegooi het, het haar vreemd aangekyk en gewonder hoekom sy so min vir God gee, want hulle het baie meer vir God gegee.

Kom ons lees saam Markus 12:41 tot 44:

41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Hier lees ons dat Jesus aan die mense verduidelik dat die weduwee min geld in die offerkis gegooi het, maar die verskil was dat sy het alles wat sy besit het in die offerkis gegooi. Sy het haar hele lewe in God se hande geplaas.

Die kern van dlie storie is nie dat ek en jy ons hele salaris vir God moet gee nie, maar liewer dat ons ons lewens aan God moet toevertrou en in totale afhanklikheid van God moet lewe. Die bymekaar maak van geld moet nie ons mikpunt in die lewe wees nie, maar eerder God se Koninkryk. Ons het verlede week gehoor dat ons  ons tyd kan gee en so kan ons ook vir God ons lewe gee deur daagliks vir Hom tyd te maak. Ons kan God wel dien deur van dit waarmee Hy vir ons geseën het, , uit te deel, want niks wat ons het, kom van onsself af nie. Alles is ’n seëning van God af.

Ek wil ons uitdaag om deur die week regtig vir God te vra hoe kan ons soos die weduwee in totale afhanklikheid van God lewe.

Gebed:

Here, dankie dat ons weet dat U ons so lief het. Here dankie ook vir al ons seëninge en ook vir ons salarisse. Dankie vir alles waarmee u ons seën: vir kos op die tafel, vir ‘n dak oor ons kop en vir ‘n familie en vriende. Here, maak ons ore en ons harte oop om U te dien op die manier wat U wil hê ons ander mense moet dien. Maak ons ore en ons harte oop vir die koninkryk. Dat ons daagliks vir mense in nood kan bystaan en vir hulle ‘n seëning kan wees met dit waarmee U ons geseën het. Dankie net vir alles wat U vir ons doen, want sonder U is ons niks. Amen.