Dagstuk | Dinsdag 13 Augustus 2024

Dagstuk | Maandag 12 Augustus 2024
Dagstuk | Woensdag 14 Augustus 2024

 

Goeiedag, vandag is Dinsdag 13 Augustus en gedurende die week gaan ons saam reis deur na te dink oor hoe ons geld as ’n manier van omgee kan gebruik.

Alles wat ons doen, moet by God begin. Dit is nodig vir ons om nader aan God te groei sodat ons ook nader aan mekaar kan groei.

Vandag gaan ons bietjie gesels oor dankbaarheid. Niks wat ons op die aarde ontvang het, kom van ons af nie. Alles is ’n seëning van God af, tot die feit dat ons vanoggend ons oë oop gemaak het. 1 Tessalonisense 5:18 herinner ons daaraan ons altyd met ’n dankbare hart moet lewe.

Kom ons lees 1 Tessalonisense 5:18 saam:

18 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Wanneer ons met ’n dankbare hart lewe is dit vir ons makliker dit waarmee God ons geseën het met ander te deel. Wanneer ons met ’n dankbare hart lewe is dit ook makliker om vir God ons hele lewe te gee en ander te help waar ons kan.  Dankbaarheid sal ons ook help om die nood van ander raak te sien en hulle te help waar ons kan. Ons hoef nie altyd geld te gee om ander mense te help nie, soms is ’n drukkie, of gebed, of tyd vir ander mense in nood, genoeg.

’n Dankbare hart sal ons lei na ’n barmhartige leefstyl waar ons mense met meer liefde en genade sal begin hanteer, waar ons van ons tyd sal begin opoffer vir mense wat dit nodig het.

Ek wil ons uitdaag om die week elke vir God vir drie dinge dankie te sê. Jy en jou gesin kan sommer om die tafel sit en vir mekaar vra om drie dinge te noem waarvoor julle dankbaar is.

Gebed:

Here, dankie vir alles wat U vir ons doen. Dankie dat ons vanoggend kon opstaan en dat ons nog ‘n dag gehad het om vir U te lewe. Here maak ons harte en ore oop om u koninkryk op aarde saam met U te kom uitbou. Here, help ons om met ‘n dankbare hart te lewe en te weet dat ten spyte van die seer in die wêreld en ten spyte van die bekommernisse in ons lewens, dat U ons nog steeds seën. Help ons om te onthou dat U ook daar is vir ons in ons hartseer tye en ons tye van bekommernis. Here help ons om U hand in ons lewe raak te sien en werklik met ‘n dankbare hart te lewe sodat ons U lig en genade aan die wêreld kan uitstraal.

Amen.