Goeiedag, vandag is Saterdag 17 Augustus en gedurende die week reis ons deur na te dink oor hoe ons geld as ’n manier van omgee kan gebruik.
Ons het geleer dat dit gaan oor dat ons eers onsself vir die Here Gee en dat ons dankbaarheid lewe, want niks behoort aan ons nie. Alles wat aan ons behoort kom as ’n geskenk van God af.
Vandag gaan ons bietjie saam Matteus 6:21 saam: Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Dit gaan oor wat ons as belangrik beskou, dat di is waar ons hart lê. As ons hart nie lê by die Koninkryk nie, gaan ons nie lewe as mense wat strewe na die Koninkryk nie. Iemand het eens op ’n tyd gesê dat ek en jy geskape is om te dien. Dit is ons doel op die aarde en ons sien ook dit is presies wat Jesus op aarde kom doen het. Hy het gekom en ander mense gedien, hulle met liefde en genade gehanteer.
So die teks en die tema van hoe ek en jy ons geld kan gee as ’n manier van omgee nooi ons uit om anderste te dink oor ons daaglikse aktiwiteite. Dit nooi ons uit om daagliks by God se voete te gaan sit en seker te maak dat ons hart op die Here gerig is. Dit beteken dat as ons harte op die Here gemik is sal ons besef hoeveel ons het om voor dankbaar te wees, maar sal dit ons ook help om die nood in ander mense raak te sien en te help waar moontlik. Die week het ons ook geleer dat ’n manier om geld te gee beteken nie altyd om duisende rande aan mense te skenk nie, maar dit behels dat ons mense kan help met dit wat ons het. Ons kan organisasies wat mense in nood help, ondersteun, ons kan ons tyd en petrol op offer om mense dokter toe te neem wat dalk siek is of net te doen wat die Here op my en jou hart plaas. Wanneer ons gee moet ons nie dit uit ’n plek van dwang doen nie, maar uit die liefde van ons hart en uit dankbaarheid vir dit wat die Here vir my en vir jou doen en mee geseën het.
Gebed:
Here dankie vir alles wat ons het. Dankie vir alles waarmee U ons seën. Here, dankie vir ‘n dak oor ons kop. Dankie vir vriende en familie en dankie vir ‘n werk en dankie vir al die seëninge in ons lewens Here. Here ek vra dat U ook sal wees met die mense wat swaer kry, maar dat U ook my hart, ore en oë sal oopmaak om die mense in nood te help en by te staan. Here gebruik my as ‘n instrument vir U koninkryk sodat alles wat ek doen uit die liefde van my hart gedoen word. Help my ook om te besef dat alles wat ek kry ‘n geskenk van U af en dat ek dit met dankbaarheid sal ontvang.
Amen