MES lewer dienste wat ’n verskil maak

Spiritualiteit?
Ontmoet die Sutherlanders

Deur: Ds. René Potgieter

MES lewer ’n kerndiens aan hawelose mense in die Kaapstad-omgewing. Hulle visie is: To change the heart of the city!

Hulle volg ’n holistiese benadering en streef daarna om mense te bemagtig sodat hulle onafhanklike, volhoubare en betekenisvolle lewens kan lei. Mense kom dikwels gebroke en verniel deur die lewe, by hulle aan. Na ’n paar maande van ondersteuning is hulle weer gereed om betekenisvolle lewens te lei. Die ondersteuning word gebied met behulp van behandelingsprogramme wat gestruktureer is om elke persoon stap vir stap te help en te begelei op die pad na rehabilitasie. Die programme sluit ook ondersteuning met verblyf, maaltye, klere, ens. in met die doel om elke persoon te help om weer vaste verblyf en werk te bekom.

MES glo in ‘n ruimte waar hoop moontlik is, waar waardes en norme gekoester word, waar die ontmagtigdes bemagtig word, waar menslike potensiaal ontwikkel word en waar waardigheid herstel word. MES verskaf dienste aan alle mense, ongeag hul ouderdom, geloof, of seksuele oriëntasie.

MES doen dan ook ’n beroep op gemeenskapslede om nie kontant aan hawelose mense uit te deel nie, aangesien dit dikwels negatiewe gewoontes in stand hou. Die MES-koepons is ’n baie beter opsie. Die koepon voorsien dan aan die ontvanger ’n ete, skuiling en ’n warm stort. Hierdie program bied aan mense die geleentheid om weer hulle menswaardigheid te ontdek; dus moet hawelose mense aangemoedig word om by die beskikbare dienste in te skakel.

Koop gerus ’n pakkie koepons by ons kerkkantoor en deel dit uit waar jy iemand in nood sien.