Dagstuk | Maandag 19 Augustus 2024

Dagstuk | Saterdag 17 Augustus 2024
Dagstuk | Dinsdag 20 Augustus 2024

Ons is tans besig om te reis deur die maand van Barmhartigheid. Barmhartigheid nooi ons om iets van onsself te gee. Hierdie week reis ons saam met die gedagte om van ons besittings te gee. Ons begin hierdie reis by 1 Johannes 3:16-17

1 Johannes 3:16

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

 

Refleksie

Johannes maak dit hier baie duidelik dat ons liefde nie net lippetaal moet wees nie, maar vertaal moet word in aksie – spesifiek hier die aksie om van ons besittings te deel met mense wat gebrek ly.

Dit is wel belangrik om te sien wat hierdie aksie dryf: dit is nie omdat ons skuldig voel, verplig voel, of omdat ons gewete ons pla dat ons iets van ons eie met iemand wat gebrek ly, deel nie, maar omdat ons gedryf word deur liefde vir ’n broer (of suster).

Hierin, dink ek, lê die hart van die gedeelte waarmee ons begin: Ons word genooi om in ’n gemeenskap van liefde met mekaar te leef en mekaar te ondersteun en uit hierdie verhouding uit, die besittings wat ons het, met mekaar te deel.

Dit begin by ’n verhouding. Vrygewigheid begin wanneer vreemdelinge broers word en wanneer die liefde van God ons dryf om die nood van ons broers raak te sien. Wanneer ons in ’n verhouding met mense leef en hulle nood raaksien, kan ons amper nie anders as om dit wat ons het, met hulle te deel nie.

Dalk moet ons nie begin deur te gee nie, maar deur eers die mense rondom ons beter te leer ken en sensitief te raak vir hulle nood. Dalk moet ons self ook bereid wees om ons eie nood met mense te deel. Ek hoor gereeld hoe mense wat sukkel sê: “Ek wil nie moeite wees nie.” Ons word juis genooi om deel te wees van ’n gemeenskap van mense wat uit liefde moeite vir mekaar doen.

Mag ons die tipe gemeenskap wees waar mense vir mekaar omgee en ons nie bang is om dit wat ons het, met mekaar te deel nie.

Ek los ons vandag met ’n laaste gedagte van Shane Claiborne, ’n bekende Amerikaanse teoloog en skrywer. Reflekteer vandag oor hierdie uitdagende woorde: “I had come to see that the great tragedy of the church is not that rich Christians do not care about the poor but that rich Christians do not know the poor.”

Gebed

Here, dankie dat U bereid was om selfs U lewe vir ons af te lê. Help ons om ook dieselfde liefde te wys vir ons broers en susters. Mag ons die mense rondom ons beter leer ken en hulle insluit in ’n gemeenskap van liefde waar ons mekaar ondersteun.

Amen