Ontmoet die Sutherlanders

MES lewer dienste wat ’n verskil maak
In September vier ons die seisoen van skepping

Deur: Ds. Adri Vlok

Ons is besonder dankbaar dat dit op Stellenberg-gemeente se hart geplaas is om na ons as plattelandse gemeente uit te reik . Mag hierdie verhouding van krag tot krag groei tot eer van ons God. Graag deel ek so ’n bietjie meer oor ons gemeente en gemeenskap.

Sutherland is bekend vir koue winters, sneeu, ons pragtige sterreryk én in die middel van die dorp staan ons historiese ou sandsteenkerkgebou wat uit die jaar 1855 dateer. Die kerk is tydens die Anglo-Boereoorlog deur Engelse soldate as ’n skuiling gebruik en daar is nog van die graffiti uit daardie era in die kerk sigbaar.

Ons orrel is vanuit Duitsland ingevoer en die orrelklanke tydens eredienste is werklik ’n belewenis.

Agter ons pragtige kansel (sien die foto bo) pryk die woorde van Psalm 84:2 “Hoe lieflik is u woninge, o Here van die leërskare”.

Sutherland-gemeente se demografiese samestelling is hoofsaaklik middeljarig tot oud, met die jeug wat slegs ’n klein groepie uitmaak. Die boere in die Sutherland-distrik speel ’n groot rol in die ekonomie van die kerk, maar die sweepslag van agt jaar se droogte saam met die Covid-19-pandemie word steeds aan die lyf gevoel.

Die gemeente is gegrond op sterk tradisionele waardes, maar met die nodige aanpassings vir vandag se moderne samelewing.  In 2023 is ek as die gemeente se eerste vroulike leraar beroep en saam is ons besig om sout en lig vir mekaar en die wêreld te wees deur as gestuurdes en in afhanklikheid van God mekaar te versorg, te vier, toe te rus en te dien.

Die kontreikuier op Vrydag 30 Augustus is ’n eerste keer vir ons as gemeenskap en gemeente.  Ons is baie opgewonde oor die samewerking tussen ons en Stellenberg-gemeente alhoewel dit ook uitdagings bied, maar die opgewondenheid oorheers tans alle moontlike probleme.

Ons nooi al die Stellenbergers hartlik uit om ons pragtige dorp te besoek. Ons jaarlikse dankfeesbasaar word die naweek van 26 Oktober aangebied en word met nagmaal in ons pragtige kerkgebou afgesluit.

Ons stuur warm plattelandse groete vanuit Sutherland en sien uit om al die Stellenbergers by die kontreikuier te ontmoet.