Ons vier die senior lidmate in Stellenberg

Graad 7’s word na ’n unieke roetemerker-geleentheid uitgenooi
Sonder om te weet

Deur: Ds. René Potgieter

Tydens die eerste week van September vier ons seniorweek en plaas die fokus op ons senior lidmate in die gemeente.  Daar is dikwels ʼn goedige gespot met oudword met die woorde: Oudword en om oud te wees is nie vir sissies nie. ’n Mens moet aan jouself erken dat jy dalk nie meer soos in die verlede sulke steil bulte so vinnig met jou fiets kan uittrap nie, nie die kleinkinders met net een arm op jou skouers kan oplig nie, en nie al die mense met wie jy ’n geselsie aanknoop, se name kan onthou nie. Soos die jare aanstap neem ons as menslike kragte af, word ons verstandelike vermoëns stadiger en raak die lewe op verskeie terreine meer uitdagend en die volgende word dikwels gehoor:

  • Kyk hoe stadig loop ek nou;
  • Dominee, jy moet harder praat;
  • My ma/pa is nou finaal bedlêend;
  • Hy herhaal nou dinge so baie, en leef nou meer in die verlede.

Ouderdom bring verseker ’n paar uitdagings mee en een daarvan is ook eensaamheid. Dieselfde mens wat as kind en jongmens soveel vriende gehad het, is dikwels nou alleen. Ouer word beteken baie keer jy moet maar tevrede wees met jou eie geselskap.

Ouderdom behels ook dikwels dat ’n mens van ’n ruim huis met ʼn groot tuin, na ’n woonstel in ʼn aftreeoord, of slegs ’n kamer en uiteindelik siekeboeg toe skuif. Hierdie skuiwe het dikwels baie emosionele implikasies waarvoor ’n mens nie noodwendig gereed is nie.

Die ouderdom bring ook vrese mee:

  • My heup kan so maklik breek;
  • Sal ek met my pensioen uitkom?;
  • Het ek die Here genoeg gedien?;
  • Die dood is so naby, sal daar regtig lewe ná die dood wees?

Tog is daar ook voordele aan ouer word. Ons leef met ’n innerlike rustigheid wat dikwels nie in ons jonger dae teenwoordig was nie. Ons het meer lewenservaring wat ons ’n beter perspektief van die lewe gee. Ons lewe nie meer so gejaag nie en het meer tyd vir ons kinders en kleinkinders.

Die wonder van oudword is egter ook dat God steeds by ’n mens is. Jesaja deel in vers 46:4 die volgende woorde:  “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.”

Jy hoef die ouderdom nie te vrees nie, want Hy wat jou gemaak het, weet dat jy swakker van liggaam en gees gaan word soos wat jy ouer word, maar Hy gee die verskering dat Hy jou nooit aan jou eie kragte sal oorlaat nie. Ook sê die psalmdigter in Psalm 73:26: ”Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd . . . dit is vir my goed om naby God te wees.”

Oudword bied die uitnemende geleentheid om meer tyd saam God deur te bring. Daar lê ʼn lewe van genade agter die ouerwordende persoon en hy/sy kan nie anders as om God se wonderdade raak te sien nie. Geniet hierdie gouejare van jou. Beskou dit ook as ’n geskenk uit God se hand.

Jy is welkom om deel te raak van die gemeente se VatVyf-groep. Die groep bied gereelde uitstappies en goeie praatjies vir ons senior lidmate aan. Kontak asseblief vir ds. René Potgieter, of die kerkkantoor om meer oor die groep te wete te kom.