https://www.youtube.com/watch?v=w2ror0C9ITw
Vandag is Maandag 2 September en welkom by hierdie week se oordenkings. Dit is lente en ons begin stadig maar seker ’n oorgang maak na die somer soos wat ons oor die drumpel van ‘n nuwe seisoen beweeg. Die derde kwartaal fokus ons op ons gemeentewaarde: Om ’n verskil in die wêreld te maak en September maand help dit ons om ’n spesifieke fokus te hê op die seisoen van skepping. Vandag reflekteer ons oor die Skepper se werk en ons teksgedeelte is:
Genesis 1:1-5
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het more geword. Dit was die eerste dag.
Die wêreld het begin met God se woorde: “Laat daar lig wees.” Die skepping begin in duisternis, maar die lig het gebring wat nodig was om lewe te ondersteun. Dink oor hoe die lig in jou eie lewe, God se teenwoordigheid inbring en jou ondersteun. Die Bybel vertel vir ons dat God alles gemaak het en dat sy hande die hemel uitgespan het; en dat Hy al die sterre in plek geplaas het. Dit herinner ons aan God se mag en beheer oor alles wat bestaan. Die aarde en die sterre is nie toevallig nie, maar is deel van God se groot plan. Dink vandag na oor hoe God se skepping jou lewe en perspektief vorm. Dink na oor die grootheid en kreatiwiteit van God, Sy deelname in jou lewe en hoe Hy ons uitnooi om saam met Hom te skep en te herskep.
Vandag se wysheid: Let op die klein dingetjies
Soms is dit die kleinste dingetjie wat die grootste indruk maak. Let op die kompleksiteit van ‘n blaar se uitleg, die patroon van ‘n vlinder se vlerke, of die subtiele kleur van die sonsondergang. Hierdie klein, maar wonderlike dinge kan jou herinner aan die skoonheid van die skepping.
Gebed
Here God, Skepper van alles en almal. Ek dank U vir die lig wat U in die donkerheid gebring het. Help my om die lig in my lewe te sien en om U teenwoordigheid in elke hoek van die aarde te erken. Mag ek altyd u skepping met dankbaarheid en bewondering benader. Amen.