Vandag is Dinsdag 3 September en welkom by hierdie week se oordenkings. Dit is lente en ons begin stadig maar seker ’n oorgang maak na die somer soos wat ons oor die drumpel van ‘n nuwe seisoen beweeg. Die derde kwartaal fokus ons op ons gemeentewaarde: Om ’n verskil in die wêreld te maak en September maand help dit ons om ’n spesifieke fokus te hê op die seisoen van skepping. Vandag reflekteer ons oor die aarde se vrugbaarheid en ons teksgedeelte is:
Genesis 1:11-12
Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.” So het dit gebeur. Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.
God het uit die aarde groen plante, en bome wat vrugte dra laat voortbring. Die aarde is ‘n lewendige plek van groei en oorvloed. Let op die plantgroei om jou en hoe dit vir jou voorsien. Die Here het met wysheid die aarde gevestig, met verstand die hemel bevestig. Die skepping is nie net bloot ‘n resultaat van God se mag nie, maar ook van Sy wysheid. Die aardse orde en die funksionering van die natuur is sorgvuldig beplan. Oorweeg en kyk vandag hoe jy God se wysheid in die skepping kan herken en waardeer. Mag dit vandag jou gebed van dankbaarheid wees by die etenstafel soos wat jy dankie sê vir God se voorsienigheid uit moeder natuur.
Vandag se wysheid: Gebruik al jou sintuie.
Probeer om die skepping met al jou sintuie te ervaar. Voel die tekstuur van die aarde of ‘n boombars, ruik die vars geur van die aarde na reën, luister na die geselskap van voëls of die ruis van blare. Elke sintuig kan jou help om ‘n dieper waarde vir die natuur te ontwikkel.
Gebed
Here, dankie vir die vrugbaarheid van die aarde en vir die oorvloed wat U vir ons voorsien. Help ons om die aarde te waardeer en te sorg vir haar, sodat sy voortaan vrugte kan dra en lewe kan ondersteun. Laat ons nooit vergeet om dankie te sê vir die voedsel wat ons ontvang nie. Amen.