Vandag is Woensdag 4 September en ek verwelkom jou graag by hierdie week se oordenkings. Dit is lente en ons begin stadig maar seker ’n oorgang maak na die somer soos wat ons oor die drumpel van ‘n nuwe seisoen beweeg. Tydens die derde kwartaal fokus ons op ons gemeentewaarde: Om ’n verskil in die wêreld te maak en in Septembermaand help dit ons om ’n spesifieke fokus te hê op die seisoen van skepping. Vandag reflekteer ons oor die natuurlike elemente en ons teksgedeelte is:
Job 38:4-11
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: “Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe”.
Die Here se handewerk is talryk. Ons weet dat Hy alles met wysheid geskep het en dat die aarde vol van sy rykdom is. Binne dit alles lê ‘n harmonieuse verhouding tussen al die elemente van die skepping. Die aarde is ‘n geskenk van rykdom en lewe. Let op hoe die verskeidenheid van lewe en die balans van die natuur die aarde lewe en betekenis gee. In hierdie teks herinner God Job aan die mag en die orde van die natuur wat Hy geskep het. Die see en die aarde het grense wat deur God vasgestel is. Ontdek hoe die elemente om jou invloed op jou lewe en geestelike reis het. Mag ons altyd die pragtige balans van die natuur waardeer en eer. Mag ons ook verstaan hoe om in harmonie met die skepping te leef en elke dag met dankbaarheid en eerbied te benader.
Vandag se wysheid: Leer oor die natuur. Hoe meer jy weet oor hoe die natuur funksioneer, hoe meer sal jy die kompleksiteit en die interafhanklikheid van lewende dinge waardeer. Lees meer oor die sterrestelsels, ekologie, lewensiklus van plante en diere, en die wetenskap agter natuurlike prosesse.
Gebed
Here, Skepper van die hemel en die aarde. U het die see en die land met sy grense geskep. Help my om die elemente van die natuur te waardeer en om U mag en ordening in alles wat ek sien te herken. Lei my om met respek en dankbaarheid teenoor u skepping op te tree. Amen.