Vandag is Vrydag 6 September en ek verwelkom jou graag by hierdie week se oordenkings. Dit is lente en ons begin stadig maar seker ’n oorgang maak na die somer soos wat ons oor die drumpel van ‘n nuwe seisoen beweeg. In die derde kwartaal fokus ons op ons gemeentewaarde: Om ’n verskil in die wêreld te maak en Septembermaand help ons om ’n spesifieke fokus op die seisoen van skepping te hê. Vandag reflekteer ons oor die leiding wat God gee in die skepping en ons teksgedeelte is:
Psalm 19:1-4
Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem.
Die hemel verkondig die heerlikheid van God, die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Hierdie psalm herinner ons dat die natuur nie net ‘n agtergrond vir ons lewe is nie, maar ‘n direkte getuienis van God se glorie. Om ons te oortuig dat God bestaan, roep Psalm 19 die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering – die skepping van hemel en aarde, die verdeling van dag en nag, die son as die lewegewende lig vir die aarde – God se verteenwoordiger in die Skepping – wat ons van Sy mag en heerlikheid wil oortuig. God bestaan… God is teenwoordig. Jy ervaar dit in die ritme van die dag en nag. Jy voel dit brand op jou vel in die dag. Daarsonder sou geen lewe moontlik wees nie. Besin vandag oor hoe die natuur jou kan lei en inspireer om God se teenwoordigheid te ervaar. Hy hou ons en die skepping in stand.
Vandag se wysheid: Maak gebruik van die natuur in jou kreatiwiteit.
Laat die natuur jou inspireer in jou kuns of kreatiewe projekte. Of jy nou teken, skilder, of skryf, die skepping kan as ‘n bron van idees en skoonheid dien. Hierdie kreatiewe uitdrukkings kan jou help om ‘n dieper waardering vir die natuur te ontwikkel.
Gebed
Here, mag die majesteit van die hemel en die aarde my herinner aan u teenwoordigheid en u glorie. Laat die natuur ‘n voortdurende getuienis van u liefde en krag wees, en help my om altyd met oop oë en hart na U te soek. Amen.