Dagstuk | Woensdag 11 September 2024

Dagstuk | Dinsdag 10 September 2024
Dagstuk | Donderdag 12 September 2024

Teks: Efesiers 2:10

10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

GEDAGTE: TEVREDE MET JOUSELF

Ons sukkel om onsself te aanvaar soos ons is. Ons wens dikwels dat ons sekere dinge aan onsself kan verander. Party van ons wil korter wees, party wil langer wees, ander wil slimmer wees en so kan ons aangaan. Die meeste van ons is onvergenoeg met wie ons is. Min kan vandag erken dat ek volkome tevrede is met wie ek is. Daar is altyd iets wat ek wil verander.

Kan jy jou indink hoeveel rustiger jou lewe sou wees indien jy op die punt gekom het wat jy vrede met jouself gemaak het. Dat jy aanvaar hoe jy lyk en wie jy is. Dink net die verskil wat dit aan jou lewensvreugde sal maak.

Dit laat my dink aan die woorde van Ralph Waldo Emerson: “I pack my trunk, embrace my friends, embark on the sea and at last wake up in Naples, and there beside me is the stern fact – the sad self, unrelenting, identical, that I fled from.”

Ons kan nooit van onsself padgee nie. Jy kan padgee, trek, emigreer, vlug, oor begin en voor begin, maar jyself gaan elke keer saam. ’n Nuwe rok, ’n nuwe werk, of selfs ’n nuwe land beteken nie jy is skielik iemand anders nie. Die opwinding van nuwe ervarings en nuwe plekke kan jou dalk vir ’n rukkie laat vergeet van jouself, maar uiteindelik is dit jou gesig wat elke keer vir jouself terugkyk in die spieël. Jy is uniek en besonders en God is baie lief vir jou. Daarom mag jy tevrede wees met wie jy is. Maar jy mag jou ook oopstel dat God jou op Sy tyd vernuwe om al meer na Sy beeld verander te word.

GEBED

Here, hier is ek, dankie dat U my gemaak het en aanmekaar geweef het in die skoot van my moeder. Ek plaas myself soos klei in u hande. Vorm my al meer na U beeld. Amen.