Dagstuk | Vrydag 13 September 2024

Dagstuk | Donderdag 12 September 2024
Dagstuk | Saterdag 14 September 2024

Teks: Psalm 131:1-2 Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. 2Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

 GEDAGTE: TEVREDE MIDDE ONRUSTIGHEID

Soms lyk die pad wat ons moet stap vir ons onbegaanbaar. Dis klipperig, dis opdraende, dis vol struikelblokke . . . en ek ’n mens dink net: “ Hoe gaan ek dit maak?” In sulke tye wil hierdie Psalm vir my en jou bemoedig: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie . . . Ek het rus en kalmte gevind.” Wat bedoel die skrywer daarmee? Dat ons moet afsien van ons eie slim plannetjies om onsself te probeer help. Ons word dus opgeroep tot geloof en vertroue in God en nie in onsself nie. Die vermoë om rustig/bedaard te wees te midde van  probleme, lê buite onsself. Dit lê in die erkenning van Wie God is.

Wie van ons ken nie die gevoel om onder jou probleme begrawe te wees nie. Wanneer jou goed geordende lewe op ‘n stadium in mekaar tuimel, wanneer dit vir jou voel of jy beheer oor alles verloor het, wanneer al jou drome en ideale begin misluk, wanneer siekte of dood aan jou deur kom klop, wanneer al jou uitgange na lig versper word. En bo dit alles as dit vir jou nog voel of God nie meer daar is vir jou nie.

Jesus het gesê: “Daar is niks waarmee jy nie na die hemelse Vader kan gaan nie.” Dalk is jy vandag midde ‘n groot storm in jou lewe of staan jy tussen groot uitdagings wat jou moeg maak. Neem vandag se vers en raak rustig by God wat weet van jou en jou omstandighede. Mag jy soos ‘n kindjie tevredenheid kry in die wete dat God ook by jou in beheer is.

 

GEBED

Al sou die vyeboom nie bot en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie

Al sou die oelyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie

Al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

En die beeskrale sonder beeste wees

Sal ek nogtans in die Here bly jubel

Sal ek bly juig in God my Redder AMEN