Ons staan aan die einde van die kwartaal waartydens ons op ons gemeentewaarde Om met ‘n verskil te leef gefokus het. In hierdie week se dagstukkies gaan ons ‘n paar teksgedeeltes oordink wat hieroor met ons praat.
1 Korintiërs 15:58
Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.
Tevergeefs is ‘n bewuswording wat gereeld in die lewe by ons opdaag. Jy kry die gevoel wanneer jy toegewyd iets aanpak en dan by die ontnugterende besef kom dat jou harde werk en ywer helaas geen impak gehad het nie. Tevergeefs is daardie hopelose gevoel dat jy jou tyd en middele verkwis het en daar nie veel is wat ‘n mens in die toekoms aan die saak kan doen nie. Hoe resoneer die gevoel vandag in jou? Dink ‘n bietjie oor die volgende na: Die tevergeefs-ervaring is dikwels ons reaksie as ons eie verwagtinge nie gerealiseer het nie. Dit is dus nie soseer ‘n kwessie dat ons ywer verniet was nie, maar eerder dat ons sukkel om ons eie verwagtinge prys te gee. Dit is teen hierdie agtergrond dat Paulus ons aanspoor om standvastig te wees en nie die goeie te laat vaar as dinge nie uitwerk soos ons gehoop het nie. Die uitkoms kan ons in die Here se hande oorgee. Wat het gebeur dat jy vandag voel om uit te roep: “Tevergeefs!”. Wat is die uitkoms wat vir jou bitter is om te hanteer. Let op hoe die Here jou help om vrede te maak met dinge wat anders uitgewerk het as wat jy gehoop of voorsien het. Mag jy ervaar dat wanneer die Here so met ons besig is niks ooit tevergeefs is nie.
Gebed
Here, “tevergeefs” is so ‘n lelike woord. Dit laat my dink aan die stofwind wat papiere en plastieksakke deur leë strate laat rondwaai. Dis ‘n bloumaandag-woord wat ‘n mens in die grond kan druk as jy terugkyk en wonder: “Wat was die sin van alles? Vir wat?”. Daarom wil ek nie graag “tevergeefs” sê oor iets wat ek probeer doen het nie. Daarom draai ek na U en pleit: Laat my lewe tog nie tevergeefs wees nie. Dit is omdat ek my dae met my eie planne en verwagtinge deurbring en my nagte met my eie kwellinge – dit is hoekom ek gedruk voel om te sê: “Alles tevergeef!”. Dankie, Here, dat U so baie kere my lewe regruk, sommer terwyl ek slaap, sodat ek, as ek wakker word, net weet: “Niks is tevergeefs nie”. Amen (Gebed deur Andries Cilliers uit die Groot gebede boek).