Spreuke 3:5-6. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink dat jy die wysheid in pag het nie.
Vandag se oordenking sluit by gister se teksgedeelte en boodskap aan. Ek verwys weer na die tevergeefse gevoel wat ons oorspoel wat dikwels die gevolg is van wanneer ons planne en drome nie realiseer nie. Ons kry daagliks te doen met moeilike kwessies om ons wat ons moet hanteer en wat ons probeer verander om ‘n verskil te maak. Ek vermoed egter dat dié moeilikste uitdaging nie van buite is nie, maar van binne onsself. Dit is vir ons moeilik om ons eie idees, planne en drome krities te evalueer. Wanneer dit wel van buite deur ander mense uitgedaag word, reageer ons liggeraak en probeer ons onsself verdedig. Vandag se teks help ons hiermee. Om die Here in alles wat ons doen te ken en te vertrou bring ons elke dag by ‘n plek van bevryding uit. Dit herinner ons dat die Here voortdurend deur sy Gees ons eie gees deursoek en na plekke te lei waarby ons self nie sou uitkom nie. Gun jouself elke dag ‘n tyd waarin jy bewustelik jou emosies, planne en verwagtinge aan die Here verwoord en die dag met ‘n afwagting ingaan dat die Here langs jou stap.
Gebed
Here, daar is so baie gedagtes en idees wat in my rondmaal en my tans gespanne maak. Ek wil so graag ’n goeie en betekenisvolle lewe leef, maar pak dit so dikwels verkeerd aan. Ek probeer my eie waarhede en drome realiseer en sien nie my blinde kolle raak nie. Dankie dat U Gees my gereeld in die lewe tot stilstand bring om my te herstel waar ek die pad byster geraak het. Dankie dat U my kom bevry van onrealistiese en onregverdige verwagtinge waaraan ek myself en ander blootstel en meet. En dankie Here, vir oomblikke soos hierdie waarin U my lewe ligter en betekenisvol kom maak. Amen.