Dagstuk | Maandag 30 September 2024

Dagstuk | Saterdag 28 September 2024
Dagstuk | Dinsdag 1 Oktober 2024

En ons is in die eerste week van kwartaal 4 van 2024. In die vierde kwartaal fokus ons as gemeente op ons vierde waarde: Om voortdurend te vernuwe. Duisende jare terug het die Griekse filosoof Heraclitus gesê: “Die enigste konstante ding in die lewe is verandering.” Die wêreld waarin ons leef verander vandag teen ’n ongekende tempo. Om voortdurend te vernuwe beteken dat ons voortdurend moet leer hoe om dissipels in ’n veranderende wêreld te wees. Hierdie week reis ons deur ’n paar tekste uit die verhaal van Daniël.

Daniël 1:5;8

Die koning het bepaal dat hulle ‘n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree… Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie.

Refleksie

Daniël se verhaal speel af tydens die Babiloniese ballingskap, waar Babilonië vir Israel vernietig het, die tempel afgebreek het en ’n groot deel van die volk weggevoer het uit hulle land om in ’n vreemde land te gaan bly, waar hulle moes doen wat ook al die koning van Babilonië hulle vra. Daniël en sy vriende is weggevoer na ’n vreemde land, waar hulle nuwe name en Babiloniese opvoeding gekry het. Te midde van hierdie veranderende wêreld waarin hulle geleef het en die druk wat hulle ervaar het om te verander, moes hulle leer om met kreatiewe maniere getrou te bly aan die Here en nie toe te laat dat eksterne druk hulle oortuigings verander nie.

Vandag lyk die wêreld heeltemal anders as die wêreld waarin Daniël geleef het, maar ons as gelowiges ervaar daagliks druk om deel te neem aan dinge wat ons lewens besoedel, of ons leer om te lewe op ’n manier wat nie in lyn is met God se koninkryk nie.

Wat dink jy is die dinge in jou omgewing wat jou lewe kan besoedel? Watter druk ervaar jy om te leef op maniere wat nie in lyn is met God se koninkryk nie?

Vir Daniël was dit belangrik om rein te bly. Wat is vir jou die belangrike dele van jou geloof waarin jy wil vashou?

Hoe kan jy, soos Daniël, jou hart voorberei om getrou aan God te bly in ’n vreemde wêreld?

Gebed

Here, in ’n wêreld wat konstant verander, help my om te sien wat dit beteken om getrou aan u Koninkryk te bly. Help my om op kreatiewe maniere te vernuwe en om op nuwe maniere uitdrukking te gee aan u liefde in u wêreld.

Amen