Dagstuk | Woensdag 2 Oktober 2024

Dagstuk | Dinsdag 1 Oktober 2024
Dagstuk | Donderdag 3 Oktober 2024

 

In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Daniël, wat ons leer om in ’n veranderende wêreld getrou te bly aan God.

Daniël 6:10

Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op ‘n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor sy God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het.

Refleksie

In ’n vreemde land, vêr van Jerusalem en die tempel af, waar Israeliete gewoonlik sou aanbid, bly Daniël se lewe geanker in gebed. Dit sou baie maklik vir hom gewees het om te sê hy kan nie vir God aanbid in ’n vreemde land nie, hy kan dit net by die tempel van Jerusalem doen. Maar Daniël kry ’n manier om geanker te bly in die gewoonte van aanbidding en gebed, self wanneer die mat onder hom uitgeruk word. Dat hy in die rigting van Jerusalem bid, is ’n mooi simbool en herinnering dat sy hart aan die Koninkryk van God behoort en nie aan die koninkryk van Babilonië nie. Wanneer ons bid, is dit vir ons ook ’n manier om ons hart te rig op die koninkryk van God, te midde van die koninkryk van die wêreld waarin ons leef. Veral wanneer die mat onder ons uitgeruk word, is die gewoonte van gebed iets wat vir ons rigting gee.

Die bevelskrif waarvan hier gepraat word, verbied vir Daniël en enige iemand anders, om vir God te aanbid. Net die koning mag aanbid word. Daniël egter aan om, soos voorheen vir God te aanbid. Iemand vertel die storie van ’n plakker wat hy agterop ’n kar raakgelees het wat sê: “If Christianity was illegal, would there be enough evidence to convict you?” As jy daaroor dink, wat sou jou antwoord wees? Na hy bietjie hieroor nagedink het, besef hy die plakker moet eintlik iets anders sê: “Christianity is illegal, is there enough evidence to convict you”. Jesus se lewe hier op aarde is ’n bewys daarvan dat as ons op ’n radikale manier vir mense begin lief wees, mense wat uitgestoot is, insluit en opstaan vir geregtigheid, dat dit ons

in die moeilikheid bring met die mense wat mag het en die status quo wil handhaaf. As ons regtig vir Jesus se voorbeeld ernstig navolg en op ’n radikale manier liefde uitleef, dan bring dit ons onvermydelik in konflik met ’n wêreld wat meer besorg is oor mag en rykdom en status, soos wat ons sien in die koning van Babilonië in die verhaal van Daniël.

Ons word vandag uitgenooi om te reflekteer oor hierdie gedagtes:

Watter geloofsgewoontes gee vir jou rigting in ’n veranderende wêreld en hou jou hart gerig op God se koninkryk? Is daar geloofsgewoontes wat nog meer wil deel maak van jou daaglikse lewe?

Wat dink jy van die vraag: “Christenskap is onwettig. Is daar genoeg bewyse om jou te veroordeel?” Hoe word jy vandag geroep om Jesus se radikale liefde uit te leef?

Gebed

Here, dankie dat ons kan weet dat U altyd getrou bly, selfs in tye wanneer dit voel of die wêreld onder ons uitgeruk word. Help my om goeie gewoontes te kweek, sodat my hart al hoe meer gerig kan word op U en U Koninkryk. Mag U my die moed gee om die radikale liefde van Jesus Christus uit te leef.

Amen