Vandag is Maandag 14 Oktober en ons is in die vierde kwartaal van die jaar waar ons fokus op ons vierde gemeentewaarde: Om voortdurend te vernuwe. Ons het onlangs ‘n nuwe kerk embleem gekry wat iets van hierdie voortdurende vernuwing wil illustreer. Die verskeie blou sirkels van die embleem is soos verskillende soorte waterputte. In die Bybel is waterputte meer as net fisiese strukture; hulle simboliseer lewensbronne wat ons herinner aan die diep geestelike waarhede van ons verhouding met God. Water, ‘n noodsaaklike element vir lewe, word dikwels gebruik om die rykdom van God se genade en voorsiening te illustreer. Hierdie week verken ons die verskillende aspekte van waterputte, elkeen wat ‘n spesifieke geestelike betekenis en toepassing vir ons lewens het, want waterputte dien as plekke van heilige ontmoetings, versorging en hernuwing.
Die Waterput van Hagar – ‘n Bron van Genade
Skriflesing: Genesis 21:19
“Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee.”
Die voorafgaande gedeelte van Abraham se wegstuur van sy slavin Hagar en hul babaseuntjie is ‘n harde realiteit van seer en pyn in elke samelewing. Maar dan word Hagar se ontmoeting met die waterput in die woestyn ‘n keerpunt. Hierdie put was ‘n bron van fisiese lewe, maar ook ‘n simbool van God se voorsiening en genade in haar diepste nood. Waterputte in die Bybel herinner ons daaraan dat God altyd voorsien, selfs in die woestyn van ons lewens. Waterputte is plekke waar mense God ontmoet en sy teenwoordigheid ervaar. Dit herinner ons dat ons altyd na Hom kan draai vir hulp, leiding en verfrissing. Watter waterput het jy vandag en die week nodig sodat jy kan vernuwe? Gesels met die Here hieroor . . .
Gebed:
Here, help my om U as die bron van lewe te erken in tye van nood. Dankie dat U altyd daar is om in my behoeftes te voorsien, net soos U vir Hagar gesorg het. Mag ek U voorsiening vertrou, selfs wanneer die pad moeilik lyk. Amen.