Dagstuk | Woensdag 23 Oktober 2024

Dagstuk | Dinsdag 22 Oktober 2024
Dagstuk | Donderdag 24 Oktober 2024

Ons vier saam ons feesmark fees die week en staan stil by verskillende feeste van die Bybel. Vandag en more staan ons stil by die nagmaal as fees.

SKRIFLESING

Lees Lukas 22:19-20

Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.

Boodskap

Na drie jaar se bediening aan sy dissipels, kuier Jesus vir oulaas saam met Sy naaste vriende, Sy dissipels. Hy’t hulle onderrig, opgelei en alles geleer wat Hy kon vir die belangrike taak wat vir hulle voorlê. Hy kyk na hulle met die wete dat dit die laaste keer is wat hulle so saam sal wees. Hy vier die eerste nagmaal saam Sy vriende. Hy wou hê dat hulle die groot daad wat Hy binne oomblikke gaan doen, sal onthou. Jesus het geweet wat voorlê, Jesus se verraaier was aan tafel, Golgota het gewink en die kruis was gereed.

Op ‘n stadium tydens hierdie ete neem Jesus die brood, bid om die seën, breek dit en deel dit aan die dissipels uit. Die brood wat Jesus breek was ‘n teken van Sy liggaam wat Hy gaan gee om die ganse wêreld te red. Hy neem ook die beker en spreek dank daarvoor uit. Die wyn is die teken van Sy bloed wat aan die kruis gestort gaan word om te betaal vir die wêreld se sonde. En so is dit dat Jesus in die donkerste nag van die wêreld vol sonde binnekom, die nagmaal instel en daardeur sê: “Dit is waarom ek na die aarde gekom het om vir die gebroke wereld, gebroke mense, gebroke gemeentes, gebroke families weer vreugde kan gee.

Die nagmaal is ’n wonderlike hulpmiddel wat God vir ons gegee het om te kan onthou wat Jesus vir ons gedoen het. Cas Wepener skryf so mooi hieroor: “Onthou elke keer as julle saam eet, Ek is self die Paaslam, Ek is die Lam wie se bloed aan die kosyne van jou lewe gesmeer is, sodat die verdoemenis van die ewige dood jou nie sal besoek nie.”  Dit was God se plan om vir ons nog ’n kans op die ewige lewe te gee. Die nagmaal is daarom ‘n feesmaaltyd, ‘n vreugdemaal wat met blydskap en dankbaarheid geniet moet word.

Daarom as ons die nagmaal vier, is ons diep bewus van die groot prys wat Jesus moes betaal het, maar in ons harte is daar soveel dankbaarheid. Ons is verlos!! Ons is verlos!! Daarom kan ons dit met vreugde vier. Ons hoef nie rond te loop soos morbiede mense sonder hoop en ‘n toekoms nie. Ons is uit die gevangenis, die tronk van sonde gered. Ons is vry.

GEBED

Here elke keer as ek nagmaal gebruik herinner dit my aan U verlossing. Dankie dat U verlossing ewig en volkome is Amen