Dagstuk | Dinsdag 29 Oktober 2024

Dagstuk | Maandag 28 Oktober 2024
Dagstuk | Woensdag 30 Oktober 2024

2 Timoteus 3:16-17  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.

Gister het ons teksgedeelte met ons gepraat oor God se genade wat groter as ons sonde is. Vandag se gedeelte praat met ons oor die praktiese implikasie van God se voortdurende genade. Die gedeelte help ons om die gebrokenheid van sonde voortdurend aan te spreek. Sou dit nie makliker gewees het as Jesus ons liewer met meer duidelike reëls gelos het as om altyd net deur stories (gelykenisse) met mense te praat nie? Ons lees dat godsdienstiges soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes, wat nougeset godsdienstige wette nagevolg het, gedurig in konflik met Jesus was, omdat hy en sy navolgers die heilige Wet van Moses oortree. As God se bedoeling was om ons uit te vang en te straf vir ons sonde sou dit waarskynlik beter gewees het dat Jesus ons gereeld oor die vingers getik het. Maar Jesus maak dit dan in Matteus 5 en Lukas 6 baie duidelik dat gehoorsaamheid aan God oor veel meer gaan as die navolging van reëls. God se genade kom deur sy Gees wat ons inspireer en ons in staat stel om te kan onderskei om die waarheid te vind en ons gedrag te verander. Dit is waaroor Timoteus met ons in hierdie teks praat en waaroor die Reformasie se klem op die Bybel (sola scriptura) geplaas word. Ons word nie geroep om die antieke leefwyse van die Bybel na te volg nie, maar om in ‘n voortdurende veranderende wêreld ons oop te stel aan God wat ons deur die Bybel wil inspireer om voortdurend God se wil in ons hede te onderskei en voortdurend daarvolgens aan te pas. Dat die Here ons die ruimte daarvoor gee getuig van genade onbeskryflik groot.

Gebed

Here, ek is vandag verward. Die wêreld om my is een stuk sinlose aktiwiteit: gesprekke wat nêrens heen lei nie, vergaderings wat geen besluite uitvoer nie; luide beloftes, en stilswye wanneer daar niks van kom nie. Ek self vaar nie beter nie: Ek staan voor keuses en besluite en weet nie watter weg om te volg nie. Plaas U hand op my skouer en laat u krag my swakheid binnevloei; laat u lig die donker uit my hart verdryf. Gee my die geloof om dit vandag saam met U in die storm te waag. Amen.