Dagstuk | Donderdag 31 Oktober 2024

Dagstuk | Woensdag 30 Oktober 2024
Dagstuk | Vrydag 1 November 2024

Galasiërs 2:20

Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.

Hoe vind ek die genadige God? Met hierdie vraag het die hervormer Martin Luther geworstel en soortgelyk aan Paulus het die antwoord daarop tot sy bekering binne die Christendom gelei. Hy het met sy sonde en sy skuld voor God geworstel. Hy het ontdek dat hy nie self in staat was om die sonde te oorwin nie en dat hy sy skuld net groter maak.

Sy gevolgtrekking was soortgelyk aan Paulus: Ek is ‘n ellendige mens en deel van sy ellendigheid was die geloof dat God hom veroordeel. Luther het die wonder waaroor Paulus in Galasiërs getuig gevind en dit as volg beskryf: “Toe voel ek heeltemal wedergebore; die poorte het vir my oopgegaan, ek het die paradys self betree”. Die gedagte van ‘n bekering binne ons bestaande geloof waaroor Paulus en Martin Luther getuig is fasinerend. Ons is van kleins geleer dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het en het dit onkrities aanvaar. Te midde daarvan dat ons as babas en kinders nie die teologie daaragter verstaan het nie, het hierdie genade van God vir ons lewens gegeld. Dit is die eerste deel van die wonder. God se Verlossing is nie gegrond op jou verstaan nie, maar in God se genade.

Die tweede deel van die wonder gebeur wanneer ons soos Paulus en Luther met die realiteite van die lewe gekonfronteer word en juis daardeur die genadige God ontdek wat ons van geboorte in die lewe vergesel het. Dit is interessant dat beide Luther en Paulus nie met Jesus se wonderbaarlike opstanding begin nie, maar met die teologie (nadenke oor God) rakende die swaarkry en seerkry van die kruis. Hier is die kern van die boodskap dat ons almal die genadige God opnuut in ons lewens ontdek en die belofte  ontvang dat ongeag of ons lewe, of sterwe ons aan die Here behoort! Het jy al die genadige God ontdek wat van geboorte af die pad met jou stap?

Gebed

U ken my angs en vrees, U staan my by.
U lei my deur u Gees; maak my weer vry.

U Woord verseker my: Nader, my God, by U, nader, my God, by U, nog naderby.

Waar hartseer, pyn en leed my weerloos laat, sal U my nooit vergeet; my nooit verlaat. Deur lyding bring U my nader, my God, by U, nader, my God, by U, nog naderby.