Spreuke 3:5-6. Vetrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
Ek kan nie glo hoe goed AI (kunsmatige intelligensie) werk nie. Dit is verstommend hoe dit gespesialiseerde informasie in ‘n paar sekondes vir jou kan bymekaarmaak. Hierdie kennis help ons dan weer met insigte waarop ons ons besluite kan grond. Om voortdurend te vernuwe verg egter nie net kennis en insig nie. Inteendeel dit vra ons om van ons bestaande kennis en insig afskeid te neem soos in Spreuke 3. Dit is miskien ook nie heeltemal waar nie – alvorens ons besluit vra dit iets anders naamlik vertroue op God. Anders as AI (kunsmatige intellegensie) waar ons vinnig ‘n gedetaileerde verklaring kry bring vertroue ons in spasies waar ons nuwe dinge moet onderskei waaraan ons nie gedink het nie en self verder moet verken. Om voortdurend te vernuwe beteken dus nie dat ons as gelowiges voortdurend dinge in die lewe moet verander nie. Om op die Here te vertrou mag selfs van ons vra om in ‘n gegewe situasie te wag, of selfs om terug te keer na hoe dinge in die verlede was. Dit ontneem ons nie van die geleentheid om kreatief en innoverend op te tree nie, maar help ons om op ander maniere saam met ander te werk om aan God se wil gestalte te gee – en op maniere wat ons nooit voorsien het nie.
Gebed
Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat u Gees my vandag so omvorm en herskep dat ek ‘n instrument kan wees wat u kan gebruik om hierdie hede en môre se toekoms ‘n beter plek te maak. Wys my watter rol ek kan speel om die korrupsie en lyding wat voor my afspeel te verander. Maak my gehoorsaam aan U o Gees van nuwe lewensmoontlikhede. Amen.