Ek lees graag vandag vir ons ‘n gedeelte wat Lina Spies geskryf het wat sy noem, die geloofsbelydenis van ‘n afvallige. Miskien help haar woorde ons ook om ons eie belydenis te verwoord:
Ek glo in die skeppende God van die wordende heelal
wie se naam te heilig was om uit te spreek:
Jahwé, die God van Israel, wat ’n vader geword het vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye inspireer tot werke wat die stempel dra van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe ek aan alle lewendes sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf ek opgeneem sal word in die durende siklus van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is as die dood.