8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
Hierdie is seker een van die tekste wat deur die meeste mense al opgesê is in tye wat ons nie weet watter kant toe nie. Want niemand is teen droefheid, of swaarkry gevrywaar nie. Op die een of ander tydstip in ons lewens ervaar ons droefheid, of swaarkry in een of ander vorm en een of ander graad. Dit is in sulke tye dat ons lewens so effens deurmekaar is. Dit is sulke tye dat soveel vrae en gedagtes deur ons kop flits. Hoe sal ek kan aangaan? Gaan ek ooit weer glimlag en gaan ek ooit weer vreugde ervaar? Waar gaan my hulp vandaan kom?
Ja, selfs ons as Christene gaan ook deur moeilike tye. Tye van swaarkry. Ons beleef ook tye van droefheid. Ons beleef ook dinge wat ons lewe skud tot in ons fondamente. Dan wil ons ook wonder of God nog daar is. Hoor Hy my nog? Hoor Hy my hulpgeroep? Miskien wil jy ook soos Paulus hierdie woorde uiter: “Drie maal het ek vir die Here gevra.”
Dis asof Paulus hier kom en net vir die Here wil sê: “Ek kan nie meer nie, dis nou genoeg” Seker het hy ook gehoop dat God hierdie doring in die vlees sal verwyder. Maar dan kry ons God se antwoord in 2 KORINTIËRS 12:9 “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Wat Paulus wel geleer het was om uit die oorvloed genade te leef wat God skenk
God het geantwoord, maar God se antwoord was nie om die pyn weg te vat nie, nie om die swaarkry weg te vat nie, maar om die genade meer te maak, wat Paulus se geloof en vertroue in sy verlossing vermeerder en sy geloof en vertroue in die teenwoordigheid van God vermeerder het en sy geloof en vertroue in die goedheid van God vermeerder. Mag jy ook hierdie genade vandag beleef.
Here, vandag smeek ek U om genade. Amen