15Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.
Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde. (Spreuke 10:21a NLV)
Met ‘n nuwe jaar wat aanbreek wil ons gewoonlik ons eet- en oefengewoontes ’n bietjie opskerp. Min van ons dink soms daaraan om dit wat by ons monde uitkom ook beter te filter. Woorde het ‘n baie kragtige effek en daarom word ons as Christene van vandag opgeroep om werklik versigtig te wees in wat ons sê. Spreuke 10:19 “Wie sy woorde tel, is verstandig”. Maar ons almal weet hoe moeilik dit is om altyd te beheer wat ons sê. Dit is werklik ‘n uitdaging om die tong stil te hou eerder as om te praat en skade aan te rig.
Die tong is die megafoon van die mens se innerlike. Jesus het self gesê: “Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein.” (Matt 15:11). Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Jou woorde is die verklanking van jou gedagtes, dit wat in jou hart aangaan. Ons woorde verklap wat ons dink. Dit wat uit die hart kom, is waaroor die mens praat.
Maak dit jou voorneme van die nuwe jaar om jou mond aan God toe te wy en gebruik jou mond en woorde slegs vir wat Hom behaag. Om lof- en dankseggings te bring en vir ander opbouend en bemoedigend te wees. Gee jou mond en woorde aan God deur Sy Woord te bid: Help my om te praat, Here, sodat ek U lof kan verkonding (Psalms 51:17).
Here, maak my lippe en my mond oop sodat ek U lof kan sing en dankoffers bring. Help my om my woorde te gebruik om vreugde en lewe te bring aan die mense om my en om U naam groot te maak. AMEN