ROMEINE 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
God het vir elkeen van ons die vermoë gegee om te dink. As gelowiges het God vir egter ook nuwe denke gegee. Hy het ons die vermoë gegee om ons denke te vernuwe. Ons hoef nou nie meer te dink soos die wêreld dink nie. Dis wanneer ons ons denke vernuwe – wanneer ons anders begin dink – dat ons verander en God se wil in ons lewens begin doen. Maar hoe doen ‘n mens dit nou eintlik? Hoe gemaak om jou gedagtes te vernuwe?
Die Griekse woord vir “innerlike denke” is “noes”. Dit verwys na die stemmetjie waarmee ons met onsself praat, die “ek” wat verantwoordelik is vir die aksies wat ek neem. Nou die vraag so vroeg in die nuwe jaar is: “Hoe kan ‘n mens jou “noes” beter maak?”
Paulus praat hier van twee magte wat ons “noes” kan vorm: Aan die een kant is daar die invloed van die wêreld: vriende, die media en die waardes van die samelewing om ons. Aan die ander kant is die Heilige Gees.
Daarom moet ons gebed vir die nuwe jaar tweeledig wees. Eerstens moet ons die wêreld om ons se invloed op ons denke en waardes weerstaan. Tweedens moet ons onsself oopstel om die Heilige Gees se invloed op ons denke en waardes te beïnvloed.
Here die wêreld het soms so groot invloed op my gedagtes en denke. Ek wil egter in die nuwe jaar my gedagtes kom vul met U heilige denke. Amen