Dagstuk | Donderdag 5 Desember 2024

Dagstuk | Woensdag 4 Desember 2024
Dagstuk | Vrydag 6 Desember 2024

Filippense 4:4-5

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.

Jesus se geboorteverhaal en sterwe word as ‘n kosmiese gebeurtenis beskryf. Met Sy geboorte het ‘n ster in die donker hemelruim verskyn en met sy sterwe het die donkerte die aarde oorval. Net ‘n klein groepie mense het dit gesien en daarvan kennis geneem. Vir ander was dit ‘n interessante verskynsel. Wat is die blydskap wat ons in hierdie Kersfeestyd beleef? Die aanbreek van die Kersseisoen bring mense reg oor die wêreld in ‘n feestelike en gemoedelike luim. Dit praat egter diep met ons oor die gebeure in die wêreld en ons eie lewens. Allhoewel ons soos elke jaar weer min of meer dieselfde versierings opsit en op Kersdag dieselfde geregte gaan bedien is ons nie dieselfde mense as wat ons ‘n jaar terug was nie. In die afgelope jaar is ons en die wêreld waarin ons leef deur vreugdes, uitdagings en swaarkry geraak en verander. Dit bring ‘n mens in hierdie Advent om ‘n nuwe dankbaarheid en vreugde te ervaar en anders te kyk en te dink oor die realiteite wat weer in ‘n nuwe jaar op ons wag. Dit moedig ons aan om die grense oor te steek, om insklik teenoor alle mense te leef, omdat God nie net hier is waar ons in kerke Kersfees vier nie, maar na hierdie wêreld toe deurgebreek het om naby aan almal te wees.

 

Gebed

Welkom, o stille nag van vrede, onder die Suiderkruis. Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis. Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder somer Kersfees, in hierdie land o Heer. Amen.