Ons is in die tweede week van Advent, die week van vrede. In hierdie week wat voorlê, dink ons na oor vrede.
1God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.
In Advent sien ons uit na die koms van Jesus. Jesus word op verskeie plekke beskryf as die een wat vrede bring. Deur die kruis en opstanding kom bring Jesus vrede tussen gebroke mense en God. Die idee is dat Jesus die verhouding tussen God en mens herstel. Die nuwe vrede tussen God en mens, maak ook vrede met ander moontlik, soos wat Efesiërs 2:14 duidelik maak: ‘Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het. ‘
Die koms van Christus gaan gepaard met vrede. Vrede met God, mekaar en alles rondom ons. Christus bring herstel en beweeg ons om herstel te bring waar ook al ons gaan.
Wat beteken dit vir jou dat Christus ons vrede is? Waar word jy geroep om herstel in die wêreld rondom jou, te bring?
Here Jesus, U is die een wat vrede bring. Dankie dat U die verhouding tussen God en mens volkome herstel het. Bring ook vrede in die gebroke dele van my lewe en die wêreld rondom my.
Amen