Dagstuk | Woensdag 11 Desember 2024

Dagstuk | Dinsdag 10 Desember 2024
Dagstuk | Donderdag 12 Desember 2024

Ons is in die tweede week van Advent, die week van vrede. In hierdie week wat voorlê, dink ons na oor vrede.

Johannes 14:27 (Afr83)

‘“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. ‘

Refleksie

Daar is verskillende tipes vrede in die wêreld. Enige iemand wat saam met ’n broer of suster in die huis grootgeword het, weet daar is tye wat ’n mens met mekaar baklei. Iewers in die middel van so bakleiery, sal ’n ouer wat genoeg van die stryery gehad het, sê: “Daar sal nou vrede in hierdie huis wees, of anders…” Daardie sin is gewoonlik genoeg om die bakleiery te laat stop, maar ons almal weet daar is nie werklik vrede nie, al is daar stilte in die huis.

Jesus en die dissipels sou hierdie tipe vrede goed ken. Die Romeinse koninkryk, wat geheers het in daardie tyd, se leuse was “Pax Romana”, of “die vrede van Rome”. Waar ook al Rome gekom het, het hulle vrede gebring. Hulle idee van vrede het egter bietjie anders gelyk as die vrede waarvan Jesus praat. Die Romeinse idee van vrede was ’n “of anders” vrede, wat vrede gebring het deur ’n gewelddadige veldtog van oorwinning, wat enige iemand wat die vrede van Rome bedreig, eenvoudig uit die pad uithaal. In die wêreld is daar ’n klomp sulke voorbeelde van vrede. Vrede gebaseer op mag is nie vrede nie, dit is net vrees.

Die vrede wat Jesus bring lyk anders. Dit is vrede wat herstel bring, wat deur liefde en opoffering die wêreld transformeer.

Wat beteken dit vir jou dat Jesus sy vrede vir jou gee – ’n vrede wat anders lyk as dié van die wêreld?

Hoe sal dit lyk as hierdie vrede ook sigbaar word in die wêreld rondom jou?

Gebed

Here, so dikwels sien ons dat mense vrede probeer afdwing op ander mense. Help ons om ’n ander tipe vrede te bring – die vrede van Jesus, wat ons oproep na ’n lewe van liefde en opoffering, soos wat Hy sy lewe in liefde vir ons opgeoffer het. Mag U vrede by ons bly en mag ons vrede bring in ’n stukkende wêreld.

Amen