1 Petrus 2:4-5 Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.
Ons leef dikwels met verwondering oor hoe dit moes gewees het om soos mense in die eerste eeu in Jesus se fisiese teenwoordigheid te kon leef. Tog het Jesus se teenwoordigheid ‘n gemengde reaksie uitgelok. Sy gedrag en optrede is deur baie mense (ook selfs godsdienstiges) afgekeur. Jesus se menswees het sy eie dissipels meer laat kopkrap as om in halleluja’s uit te bars. In Johannes 6:60-66 lees ons dat baie van Jesus se dissipels by ‘n punt gekom het om te sê “dit is te erg” en besluit het om Hom te verlaat. In reaksie daarop het Jesus vir die klein groepie wat agtergebly het gevra: “Wil julle nie ook saamgaan nie?” Jesus se verskyning as mens in ons eie wêreld vandag moedig ons aan om onsself voortdurend bloot te stel om geestelik te groei. Ons kerke skep godsdienstige ruimtes waarvan die geboue vas staan, maar daarbinne is God altyd besig om ons te vervorm. So aan die begin van die jaar wil ek as gebed die volgende bekende kinderlied lees. Mag hierdie tyd van die jaar ons almal by die plek uitbring om soos kinders ons vertroue in God te plaas om ons te lei en te vorm.
Gebed
Here Jesus ek is klein
Maak Uself my lewe rein
Laat ek altyd van U leer
Laat ek groot word tot U eer
O Jesus neem my
O Jesus lei my
O Jesus sterk my
En vorm my tot u eer