Dagstuk | Donderdag 9 Januarie 2025

Dagstuk | Woensdag 8 Januarie 2025
Dagstuk | Vrydag 10 Januarie 2024

Romeine 13:10-11. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. En dit is alles nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. 

Hoe begin jy jou nuwe jaar? Wat is van die eerste dinge wat jy doen om jou jaar af te skop? Vir my is dit om al die prioriteite van die jaar te bepaal en die gebeure in volgorde van belangrikheid op ‘n almanak, of dagboek neer te pen. Dit help my om by die regte goed uit te kom en dit doelgerig af te handel. Wat is die prioriteite waarby jy in die jaar wil uitkom? Ek vermoed dat ons dagboeke vol take is wat afgehandel moet word. In Romeine praat Paulus met ons oor iets wat waarskynlik nie die takelys van ons dagboek beplanning haal nie, naamlik liefde. Dit het my aan die dink gesit. Is dit ‘n kwessie dat liefde iets is waarop ons dikwels net impulsief reageer soos dit oor ons pad kom? Tog is die Heilige Gees voortdurend besig om op ‘n veel dieper vlak met ons oor liefde te praat en daardeur ons aandag te fokus op dinge wat belangrik is. Miskien is dit juis belangrik om wel die uitkoms van hierdie bewuswording in ons dagboeke neer te pen, sodat dit bo die magdom van ander take uitstaan. As ons die jaar reg wil begin is dit ‘n goeie idee om dalk eers oor die roeping van liefde te besin en van daaruit ons take vir die jaar te skeduleer. Hoe verander hierdie roeping die manier waarop jy die jaar ingaan?

Gebed

Help my, Here om die oorvloed wat U my gegee het te deel. Skenk my ‘n stukkie van U onselfsigtige liefde, sodat dit ook vir my makliker sal wees om doelgerig met ‘n vrygewigheid te leef. Maak dit vir my doodnatuurlik om elke dag my aandag te kan fokus om te gee sonder om iets terug te verwag; om in die geheim te gee sonder om erkenning te soek en in opregtheid sonder om dankbaarheid te eis. Ek vra dit in die naam van die U Here wat uself ten volle vir ander kom gee het. Amen.