Dagstuk | Saterdag 11 Januarie 2025

Dagstuk | Vrydag 10 Januarie 2024

Psalm 139: 23-24. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde  pad is nie en lei my op die beproefde pad.

Op ‘n dag het ‘n dogtertjie vir haar ma gevra: Mamma, hoe weet ek dat ek die regte ek is? Die dogtertjie praat van die bewussyn wat ons almal mee kan assosieer. Daar is elke oomblik van die dag gesprekke in ons gedagtes aan die gang oor dit wat ons sien en besluit. Daar is nie net een stem nie, maar twee wat kante van ‘n saak opweeg en elk sy eie argumente voer van hoe ons moet optree. Dit klink baie kompleks, maar ons maak elke dag honderde  besluite op hierdie manier. Watter een van die twee is die regte ek? Die persoon wat in die Psalm skryf vra hierdie vraag en bid dan die volgende gebed: Deurgrond my Here, sien my raak, lei my op die regte pad. Ons eie wil soek dikwels die maklikste uitweg, of die een wat vir ons self die grootste voordeel inhou. Hierdie gebed lei ons anders. Dit wil ons op die regte pad lei al is die koste hoog en die weg daarheen moeilik. Hoe praat die Here met jou oor dit wat voor jou lewe afspeel en hoe is die Heilige Gees besig om jou te help om te onderskei hoe jy daarop moet reageer?

Gebed

Here, ek gaan vandag die dag binne met groot krag, want U lei my:  U mag hou my regop, U wysheid leer my, U oë waak oor my, U  ore hoor my, U gee my die regte woorde. Dit is U stem wat my beskerm teen die bose, die emosies van my eie wil. Daarvoor loof ek U. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde  pad is nie en lei my op die beproefde pad.