In hierdie week dink ons na oor die grense van die nuwe jaar – grense wat ons moet oorsteek, uitbrei of trek. Ons nooi jou uit om in hierdie week bewus te word van die grense in jou lewe, soos wat ons hierdie nuwe jaar begin.
Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.
Een van die waardevolste vrae wat spirituele begeleiers aan ander vra is: Waarmee is die Here met jou besig? Ons dink nie altyd daaraan nie, maar die Here is met jou besig. Ons stel baie keer vir onsself grense vir ons geloof en dink dat waar ons nou in ons geloof is, is waar ons altyd gaan wees – ek is dan reeds ’n nuwe mens.
Maar vandag se teksgedeelte maak dit duidelik dat die Here nie klaar is met ons nie. Om die lewe van ’n nuwe mens te lewe, beteken om al hoe meer vernuwe te word na die beeld van die Skepper en tot die volle kennis van God. God is voortdurend besig om die grens van ons geloof te skuif, om ons al hoe meer te vernuwe om meer soos Christus te wees.
So waarmee is die Here met jou besig? Hoe is die Here besig om jou te vernuwe? Watter grense van jou geloof is Hy besig om te verskuif?
Spandeer vandag genoeg tyd saam met hierdie vraag: Waarmee is die Here met jou besig, aan die begin van 2025?
Mag jy, in 2025, al hoe meer vernuwe word na die beeld van jou Skepper, tot die volle kennis van God
Here, dankie dat U besig is met my. Dankie, dat ek kan vertrou dat U ’n pad met my stap en besig is om my te vernuwe. Help my om te breek met die ou, sondige gewoontes wat nog deel is van my lewe en help my om te lewe as nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na U beeld.
Amen