Dagstuk | Saterdag 18 Februarie 2025

Dagstuk | Vrydag 17 Januarie 2025
Dagstuk | Maandag 20 Januarie 2025

In hierdie week dink ons na oor die grense van die nuwe jaar – grense wat ons moet oorsteek, uitbrei of trek. Ons nooi jou uit om in hierdie week bewus te word van die grense in jou lewe, soos wat ons hierdie nuwe jaar begin.

2 Korintiërs 12:9

‘Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. ‘

 

Refleksie

Ons lewe in ’n wêreld waar genoeg nooit genoeg is nie, waar ons aangemoedig word om heeltyd meer te verbruik, meer te besit, meer te doen en beter te wees. As ons kyk na ander se lewens op sosiale media, voel ons nooit goed genoeg nie. Ons bereik nooit die grens van die goeie lewe nie, dit bly buite ons bereik.

Paulus skryf hierdie gedeelte in die konteks van ’n ‘doring in die vlees’ in sy lewe. Ons weet nie wat hierdie doring in die vlees was nie, of dit ’n swakheid is wat hy nie kon oorkom nie of ’n vyand wat hy nie kon oorwin nie. Dalk is dit ook goed dat ons nie weet nie en eerder uitgenooi word om te reflekteer oor die doring in ons eie vlees, wat dalk anders is as die doring wat Paulus beleef.

Wat ook al die doring is, die antwoord bly dieselfde: “My genade is vir jou genoeg.” In ’n wêreld waar ons nooit genoeg kan hê of goed genoeg is nie, sê  die Here vir ons: “My genade is vir jou genoeg.” Ons hoef nie perfek te wees nie. Inteendeel, dit is juis wanneer ons die grens van ons swakheid in die gesig staar, dat God se krag tot volle werking kom.

Mag jy weet, dat, wat ook al 2025 vir jou inhou, God se genade vir jou genoeg is. En mag Sy krag sigbaar word wanneer ons die grens van ons swakhede bereik.

Gebed

Here, dankie vir U oorvloedige genade, wat genoeg is, ook vir my. Dankie dat U genade my vrymaak van die soeke na perfektheid. Dankie, dat U genade my vrymaak om meer te wees as wat ek is. Help my om tevredenheid by U te vind. Maak U krag sigbaar, ook in my swakheid.

 

Amen