Deur: Ds. Marius Breytenbach
Ons gemeente se predikantespan vergader elke Dinsdagoggend. Die vergadering begin altyd deur die lief en leed in die gemeente met mekaar te deel, die skrifgedeelte van die komende Sondag saam te lees en te bespreek en ons gemeente in gebed aan die Here op te dra. Die res van die vergadering word gewy aan praktiese reëlings en beplanning. Van tyd tot tyd breek ons hierdie roetine deur gemeenteprojekte asook ander gemeentes in die Kaap te besoek, sodat ons ook by hulle kan leer en kan saamdink oor ons onderskeie bedienings.
Onlangs het ons die Groote Kerk in Kaapstad se leraarspan besoek. Hulle leraarspan bestaan uit Marietjie Steyn, Riaan de Villiers en Erick Zulch (jeugpos tussen Drieankerbaai en Groote Kerk). Twee van hulle leraars het in Stellenberg-gemeente grootgeword. Marietjie is dr. Braam Hanekom se dogter en Erick Zulch is my skoon-seun. Dit was vir ons leraarspan interessant om te hoor hoe hulle kerk-wees in die hart van Kaapstad ervaar en ook nou met gemeentes in hulle omgewing, soos die Drieankerbaai-gemeente in Seepunt, saamwerk. Dié twee gemeentes deel die jeugpos wat deur Erick Zulch beklee word. Groote Kerk het ook ‘n bedieningspunt in Kampsbaai, wat meer op gesinne fokus.
Met die uitdagings wat ’n stadslewe inhou, is dit vir hulle baie belangrik om gasvrye gemeentes, waarin verhoudings gebou kan word, te wees. Om ‘n erediens in die twee kerke by te woon is ‘n belewenis – doen tog die moeite om hulle iewers deur die jaar te besoek. Die Groote Kerk se oggenddiens begin om 10:00 en die diens in Drieankerbaai (in Seepunt se hoofstraat) om 09:30. Na Drieankerbaai se diens word koffie en tee in hulle kerksaal bedien en dit is teenaan die Seepunt-promenade vir diegene wat na die diens ’n entjie langs die see wil gaan stap.
Riaan de Villiers bied in Februarie ‘n historiese wandeltoer deur die stad aan en die Kerssangdiens en Paasfeesdienste is ook besonderse geleenthede om by te woon. Die Groote Kerk-gebou is vanaf Maandag tot Vrydag tussen 10:00 tot 14:00 oop vir vir besigtiging. Riaan is ook bereid om groepe op ‘n kerktoer te begelei. Gaan kyk gerus ook na die Facebook-groep: Die stories van die Groote Kerk, waar interessante foto’s en staaltjies oor die kerk se 360 jaar oue geskiedenis gedeel word. Drieankerbaai, wat al die toekenning vir die “Basaar van die jaar”, gewen het, bied weer hierdie geleentheid op Saterdag 22 Februarie aan.
Dit is verfrissend om te sien hoe elke gemeente binne die groter NG Kerk familie daarna streef om lidmate volgens elke gemeente se eiesoortige behoeftes te bedien – alles tot eer van ons groot Vader.