Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.
Wat beteken vriendelikheid vir jou? Is dit ʼn glimlag as jy by iemand verby stap? Dalk kan ons almal doen met meer vriendelikheid in ons lewens. Meer vriendelik wees teenoor ander en wanneer ander met ons vriendelik is dan voel ons dag sommer baie beter.
Maar die Griekse woord wat hier gebruik word vir vriendelikheid is soveel meer as om net ʼn glimlag vir iemand te gee. Meeste ander dele word hierdie woord vertaal met goedheid. (bv. Kol. 3:12). Hierdie woord word ook gebruik vir God se optrede teenoor ons deurdat God goedheid aan ons bewys het (Titus 3:4 en Romeine 2:4). Die vriendelikheid waarna hier verwys word in Galasiërs 5:22-23 het die betekenis dat jy iets goed vir iemand anders doen.
Hoe kan jy goed aan ander doen in jou lewe vandag? In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan sien ons veral die betekenis van vriendelikheid. Dit was meer as net om verby iemand te loop in nood en vriendelik met hom te wees. Nee, die Samaritaan het gestop en goed gedoen aan die man wat nood gehad het. Goedheid is daarom nie ʼn emosie wat ons beleef nie, maar ʼn optrede wat ons uitleef omdat dit gesetel is in die liefde wat God vir ons het. God het Sy goedheid aan ons bewys. God gee vir jou om en help vir jou.
Daarom kan ons ander help en goed wees vir hulle. Vriendelikheid mag verniet wees, dit kos niks om ʼn glimlag vir iemand te gee nie. Maar om goed te doen aan ander is nie altyd verniet nie- dit vra van ons om raak te sien en nie net verby te stap nie. Dit vra van ons om ons tyd te gee en ons hande vuil te maak. Dit vra van ons om ons geld en middele met ander te deel. Hoe gaan jy goedheid/vriendelikheid aan ander uitleef vandag?
‘n Gebed om Vriendelikheid
Ek nooi U vandag uit om my te lei, te rig en te wys hoe om vriendelikheid aan ander te betoon soos U vriendelikheid aan my betoon het. In die Naam van Jesus, amen.