Klipheuwel se groentetuinprojek, onder leiding van Shiloh, en waarby Stellenberg-gemeente tydens die tiendemaandinsameling betrokke geraak het, is goed op dreef. “Die inwoners van Klipheuwel het nie grond om hulle huise nie, die meeste woon in plakkershutte met baie min ruimte om die strukture,” sê Schalk Burger, verteenwoordiger van Shiloh. “Shiloh het ’n groot stuk grond, ongeveer drie hektaar bekom en ’n stuk daarvan in erfies opgedeel wat ons dan aan lede van die gemeenskap verhuur met die bedoeling dat groente op die grond verbou word. Ons is passievol oor goeie voeding en benadruk dit gereeld by ouers wie se kinders in Klippie-kids Preprimêre Skool is, dat kinders gesonde kos moet eet. Goeie voeding is dan ook ons groot motivering vir die ontwikkeling van standhoudende groentetuine.
“Wat die groentetuinprojek betref, is daar al heelwat tuine gevestig. Die plantjies wat lidmate van Stellenberg-gemeente geskenk het, is almal geplant, maar die tuiniers het self ook baie saad aangekoop en gekweek. Van Shiloh se kant af het ons 2 000 plantjies gekweek, om die projek mee te loods. Shiloh voorsien die tuiniers van water, maar hulle moet self kunsmis, saad, gifstowwe, ens. aanskaf. Daar is ook gereeld peste en plae wat beheer moet word. Die pampoenranke is byvoorbeeld deur ’n gogga aangeval, wat groot dele van die plante vernietig het.
“Die groentuinprojek het nog baie potensiaal. Ons is nou maar besig met fase 1 van die projek en daar lê nog meer as twee hektaar grond braak, wat bewerk kan word.”
Lidmate wat graag by die projek betrokke wil raak, kan met Schalk Burger 079 577 8268 kontak maak.