Stellenberg Omgeetrust besef gebed alleen is nie genoeg nie

Groentetuine in Klipheuwel staan geil
’n Gebed | Rustig by God

Derick van der Merwe, lid van Stellenberg se Omgeetrust, sê toe hy een oggend tydens ’n besoek aan die trust se huis in Ruyterwacht ’n gesprek met een van die  inwoners, ’n bejaarde vrou wat in daardie stadium in die Wendyhuis op die huis se erf gewoon het,  begin voer het, het sy hart met die aanhoor van haar verhaal in stukkies gebreek.  “Sy het vir my vertel hoe sy na haar man se dood, finansieel van haar seun afhanklik was. Haar seun verloor toe sy besigheid, speel bankrot en verloor alles.  Die uiteinde daarvan was dat sy en haar seun beide op straat beland het.  Sy was in daardie stadium net dankbaar om ’n dak oor haar kop te hê, al was dit in ’n baie warm Wendyhuisie op die erf van die huis in Texelstraat.  Daardie dag het ek besef ek kan nie net bid vir mense wat soos sy swaarkry nie – ek moet iets doen.”

Stellenberg-gemeente se Omgeestrust is as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer en het vier trustees wat almal lidmate van die gemeente is.  “Die trust se doel is om bates bymekaar te maak en dit te beskerm,” verduidelik Derick.  “Daarom het ons reeds twee huise in Ruyterwacht, waar senior burgers gehuisves kan word, ’n huis in Kraaifontein, wat as ’n kinderhuis bedryf word, aangekoop.  Die trust het ook kapitaal belê in twee skole wat op vroeëkinderontwikkeling fokus, een in Prins Albert en een in Klipheuwel.

“Die trust het einde verlede jaar nog twee huise in Ruyterwacht aangekoop  vir die huisvesting van minderbevoorregte bejaardes en Communicare het twee blokke woonstelle met altesaam ongeveer 17 eenhede aan die Omgeetrust geskenk.  Die eiendomme is die bates van die trust, maar die bestuur van die eiedomme word deur BADISA behartig.  In dié eiendomme wat die trust nou bekom het, sal tussen 30 tot 40 bejaarde persone gehuisves kan word.

“Die eiendomme, veral die woonstelle wat ons as skenking ontvang het, is struktureel  erg verwaarloos.  Op bostaande foto’s word van die verval uitgebeeld.  As trust is ons uitdaging tans om die eiendomme sodanig op te gradeer dat mense daarin kan woon en ’n menswaardige bestaan daar kan voer.  Ek wil lidmate uitdaag om by die projek betrokke te raak – ons het fondse, kundigheid en arbeid nodig.  Onthou ook dat enige finansiële bydraes tot die trust aftrekbaar van belasting is in terme van artikel 18 A van die inkomstebelastingwet.”

Kontak gerus vir Derick van der Merwe by 083 275 5016 indien jy by die Omgeetrust se projekte betrokke wil raak. Die Omgeetrust se bankrekening is: Omgeetrust DP, ABSA  929 2985 798, takkode 632005.  Gebruik “Ruyterwacht” as verwysing.  Die trust mag as ’n Openbare Weldaadsorganisasie optree en die volgende PBO nommer is aan die trust toegeken: 930028718.